Vier verdagtes het op Maandag, 12 April in die landdroshof op Mkondo (Piet Retief) in verband met die moord op mnre. Mgcini Coko (36) en Zenzele Coko (39) van die Mkhondo-omgewing, verskyn.
Die mans staan tereg op twee aanklagte van moord en een van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die gebeure van die voorval is egter in ’n tweestryd, met verskeie weergawes wat die rondte doen oor wat op dié loodlottige dag plaasgevind het.
Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het in ’n mediaverklaring gesê ’n groep mans het op Vrydag, 9 April op ’n plaas in die Dirkiesdorp-omgewing klaarblyklik seisoenale werk gaan soek.
Volgens kol. Mdhluli, het die boer aan die groep gesê dat hulle nie welkom op sy plaas is nie.
Een van die mans het na bewering op die plaas agtergebly nadat die ander die plaas verlaat het.
Kol Mdhluli het gesê dat die groep die persoon, wat agtergebly het, gaan soek het, en ’n struweling ontstaan het. Die Coko-broers is tydens die bakleiery doodgeskiet en drie ander mense is beseer.
“Die polisie is na die toneel ontbied, waar hulle die twee groepe mense aangetref het.”
Vier verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem, en daar is ook op twee vuurwapens beslag gelê.
Mpumalanga Landbou Unie het ’n mediaverklaring uitgestuur waarin daar beweer word dat die voorval voortgespruit het uit ’n onwettige optog na die plaas.
In die verklaring word daar gesê dat die plaaswerkers asook die eienaar van die plaas gedreig is, en daar toe ’n noodoproep na die boere in die omgewing uitgestuur is.
Volgens die verklaring het een boer ’n ernstige skedelbreuk opgedoen en het verskeie ander boere ook ernstige beserings opgedoen.
“Ons het geen kennis van betogers wat vir die onwettige optog in hegtenis geneem is nie,” lui die verklaring.
Mpumalanga Landbou het reeds ’n dringende vergadering met mnr. Mandla Msibi, die pas aangestelde LUR vir Landbou, Plattelandse ontwikkeling, Grond en Omgewingsake, versoek om dié voorval te bespreek.
Die Hoëvelder het kol. Mdhluli weer gekontak oor die verskillende weergawes van die gebeure en oor wie die beseerdes was, waarna hy nie kommentaar wou lewer nie.
“Die saak is nou sub-judice, en ons kan nie die voorval bespreek nie. Ek is jammer die saak is in die hof se hande,” het kol. Mdhluli gesê.
Betogers het reeds van vroegoggend op 12 April buite die hof saamgedrom en geëis dat die mans nié borgtog toegestaan word nie.
Mnre. Orchard Klingenberg (53), Danie Malan (39), Cornelius Greyling (25) en Ignatius Steynberg (31) is in aanhouding aangehou en die saak is tot 19 April vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.
’n Vyfde verdagte, mnr. Zenzele Yende, is ook intussen in hegtenis geneem.
Die spanning het Maandag, 19 April buite die Piet Retief-landdroshof tussen die polisie en betogers toegeneem voor die borgtogaansoek van die vier verdagtes.
Kol. Mdhluli het in ’n mediaverklaring gesê dat ’n groep mense buite die hof die haakdraad, wat deur die polisie opgerig is om die betogers te verhoed om die hof te betree, probeer verwyder het.
“Die polisie het daarin geslaag om te keer dat die betogers die draad verwyder, maar hulle het geweldadig geraak en vensters van ’n sakeperseel stukkend geslaan. Twee polisievoertuie is beskadig, en ’n ander man is na bewering deur ’n groep betogers gesteek.
Die saak is na 20 April uitgestel en die vyf verdagtes is in aanhouding gehou.



