AfriForum het onlangs ‘n prokureur aangestel om die verrigtinge in die Piet Retief-landdroshof dop te hou en om volgens hulle seker te maak dat geregtigheid geskied.
Vier boere en ‘n plaasvoorman het op 26 April weer in die hof verskyn in verband met die skietvoorval op die Pampoenkraalplaas in die Dirkiesdorp-omgewing op 9 April.
Twee broers, mnre. Mgcini Coka (36) en Zenzele Coka (39) van die Mkhondo-omgewing, is tydens die voorval doodgeskiet.
Volgens mnr. Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en- risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, wys ‘n video-opname wat die gebeure tydens dié voorval vasgevang het, dat die staat se weergawe betwyfel kan word.
Die video is verkry van kameras wat op die plaas geïnstalleer is.
Mnr. Kamfer het gesê die feit dat die twee oorledenes aggressief voorkom en voor die voorval met mekaar baklei, doen afbreuk aan dit wat die staat tot dusver aangevoer het.
“Die mense het duidelik aggressief voorgekom. Dis ‘n goeie aanduiding dat weergawes wat tot dusver as die waarheid aanvaar is, nie noodwendig die regte weergawes is nie.”
‘n Groep betogers het weer voor die hof byeengekom en geregtigheid vir die broers geëis.
Kol Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder het gesê dat die polisie diegene wat die wet verontagsaam tydens hofverskynings vervolg sal word.
Dit kom nadat sommige lede van die publiek buite die hof byeengekom het en probeer het om die hofgebou met geweld binne te dring.
“Toe die polisie hulle egter keer, het hulle eindom in die dorp geplunder en verskeie items uit winkels gesteel.”
Ses verdagtes tussen 20 en 51 jaar oud is in verband hiermee, weens openbare geweld in hegtenis geneem. Hulle het op 22 April voor die Piet Retief-landdroshof verskyn, waar borgtog tussen gratis en R500 toegestaan is.
Twee verdagtes se saak is tot 6 Mei uitgestel, terwyl hulle in aanhouding bly.
Die borgtogverhoor van die vyf verdagtes sal op Woensdag, 28 April voortgesit word, die verdagtes sal in aanhouding bly.



