
Die burgerregteorganisasie, AfriForum, het Piet-Retief Landroshof se besluit om borgtog aan die vyf verdagtes in die Coka-broers-saak toe te staan, verwelkom.
Borgtog van R10 000 elk is vandag, 30 April aan die vyf mans toegestaan.
Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Greyling (25), Othard Johan Klingenberg (53), Ignatius Steynberg (31) en Zenzele Patric Yende (48) word daarvan beskuldig dat hulle twee broers, Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka doodgeskiet het.
Die voorval het op 9 April op Pampoenkraal in die Dirkiesdorp-omgewing plaasgevind.
LEES OOK: Video word in hof gewys tydens Coka-broers-saak
Mnr. Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum het in ’n mediaaverklaring gesê dat dit wat op die plaas gebeur het op sigself ‘n tragedie is en die feit dat twee mense dood is ‘n onreg is, ongeag wat gebeur het.
“AfriForum is egter bekommerd dat ’n tweede onreg besig is om te ontvou vanweë die feit dat aktiviste, politici en sekere kommentators ideologies opportunisties met hierdie saak handel in die sin dat, ten spyte van die feit dat daar nog nie behoorlike inligting oor die gebeure beskikbaar is nie, daar reeds ideologies gelaaide gevolgtrekkings gemaak word en dit as die waarheid gepropageer word en gebruik word om mense op te sweep en rassespanning aan te hits.
“Dit is belangrik dat ’n deeglike ondersoek gedoen word sodat ons kan vasstel wat gebeur het voordat daar sekere gevolgtrekkings gemaak word.”
Lees meer hieroor in die Hoëvelder.
Die saak is tot 30 Junie 2021 uitgestel.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.



