CrimeNewsStreeknuus

Delmas-polisie trek vier verdagtes vas

Daar is op twee 9mm-pistole, waarvan die een se reeksnommer verwyder was, beslag gelê. By verdere ondersoek het dit geblyk dat een van die pistole ’n speelgoedpistool  was.

Wat aanvanklik vir twee van die Delmas-polisielede ’n roetine patrollie moes wees, het op Sondag, 25 Julie, in ’n jaagtog teen hoë spoed deur Delmas en vier in hegtenisnames geëindig.

Dié twee lede het die middag omstreeks 12:45 in die omgewing van Shoprite in Sarel Cillierstraat patrollie gery as deel van hul misdaadbekampingsinisiatief.

Hulle het ’n wit Toyota Etios sonder nommerplate opgemerk en dit het vir hulle verdag voorgekom. Die polisielede het die voertuig genader en vir die bestuurder aangedui dat hy moes aftrek.

Die voertuig het egter weggejaag en ’n hoë spoedjaagtog deur Sameulweg het gevolg.

In ’n poging om die polisie te probeer ontduik, het die bestuurder van die Etios gepoog om links by Sameulweg en die R50-kruising in die rigting van Bapsfontein te draai.

Hy het egter nie ’n aankomende swaarvoertuig in ag geneem nie en het daarteen gebots.

Volgens die bestuurder van die swaarvoertuig was hy op pad na die Sepakusementfabriek waar hy dringend houtpalette moes aflewer.

“Die bestuurder van die voertuig het geen poging aangewend om by die T-aansluiting te stop nie en die Etios het reg van voor teen die kant van my trok gebots, getol en weer reg van agter gebots,” het hy die Streeknuus meegedeel.

“Ek het gestop, maar dadelik gesien dat die verdagtes gewapen was.”

Die Delmas-polisie het daarin slaag om twee verdagtes in hegtenis te neem, maar die ander twee het te voet gevlug. Die polisie het die verdagtes te voet agterna gesit en in die omgewing van uitbreiding vier vasgetrek.

Volgens ’n ooggetuie wat nie sy naam genoem wil hê nie, het hy die hele petalje aanskou en uit sy voertuig geklim in ’n poging om te probeer help.

“Toe ek egter die vuurwapens sien, het ek besluit om eerder skuiling te soek en myself en my eie voertuig te beskerm,” het dié man gesê.

Met al vier die verdagtes in die vangwa kon die polisie voortgaan om die motorwrak te deursoek.

Daar is op twee 9mm-pistole, waarvan die een se reeksnommer verwyder was, beslag gelê. By verdere ondersoek het dit geblyk dat een van die pistole ’n speelgoedpistool  was.

Die polisie het ook op 10 selfone, vermoedelik gesteel of geroof, beslag gelê.

Volgens brig. Leonard Hlathi, mediawoordvoerder van die polisie in Mpumalanga, sou die viermanskap op Maandag 26 Julie in die Landdroshof op Delmas verskyn het op aanklagtes van onder meer roekelose en nalatige bestuur sowel as vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

’n Profielondersoek sou ook gedoen word om vas te stel of van die verdagtes moontlik by enige ander misdade betrokke was.

Die oorsprong van die ongelisensieerde vuurwapen, waarvan die reeksnommer verwyder is, sou ook nagespeur word.

 

Die Toyota Etios waarin vier verdagtes gevlug het, het teen ’n aankomende swaarvoetuig gebots.
Baie skade is aan die voertuig, waarin vier verdagtes probeer vlug het, aangerig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button