CrimeNewsStreeknuus

Rowers teiken kettingwinkel op Delmas

Die inhoud van twee selfoonkluise, sowel as ‘n kas waarin selfone uitgestal word en geld uit die kasregisters is gesteel.

Die presiese omstandighede rondom die soveelste roof by ’n bekende kettingwinkel op Delmas, is baie vaag.

Dié winkel blyk egter ’n gunsteling-prooi vir rowers te wees en Streeknuus het by verskeie vorige geleenthede rondom rooftogte by dié winkel berig.

Ackermans in die Willowbrooke Square Winkelsentrum in Delmas is op Donderdag omstreeks 11:45 beroof.

’n Oplettende werknemer van Pick n Pay in dieselfde kompleks het gesien hoe die winkel se deure tydens normale winkelure toegaan en het onmiddellik onraad vermoed. Hy het Delmas se polisie geskakel, asook die AfriForum Delmas Valke Buurtwag oor die tweerigting radio van die voorval in kennis gestel.

Volgens ’n werknemer van Ackermans wat nie haar naam genoem wil hê nie, het ’n man met ’n rugsak die winkel binnegestap. Die man se kop is kaal geskeer, hy is van gemiddelde lengte en
Zulu-sprekend.

Die werknemer het hom gekonfronteer omdat rugsakke volgens maatskappybeleid nie toegelaat word nie, maar by sekuriteit by die ingang na die winkel gelaat moet word.

“Die man het vir ’n wyle stilgebly en toe ’n vuurwapen na vore gebring en my meegedeel dat hy daar is om die winkel te beroof,” het die werknemer gesê.

Sy het hierna glo probeer weghardloop, maar die rower het die vuurwapen op haar gerig en haar meegedeel dat daar nog meer rowers by die deur was. Die rower het haar gevra waar die winkelbestuurder was waarna sy hom meegedeel het dat dié nie op daardie stadium in die winkel was nie.

Die eerste rower het hierna instruksies aan die werknemer gegee om die selfoonkluis oop te sluit. Die kluis was egter oop, want daar was ten tye van die roof ’n kliënt wat besig was om ’n selfoon aan te koop. Die inhoud van twee selfoonkluise, sowel as ‘n kas waarin selfone uitgestal word, is glo hierna deur die vier rowers gebuit.

Intussen is kliënte, volgens inligting, beveel om by die aanpaskamers te wag.

Daar is geen duidelikheid of enige aanduiding hoe die verdagtes weggekom het nie. Daar was aanvanklik berig dat die rowers binne in winkel saam met kliënte en personeel sou wees.

Volgens die Ackermanswerknemer het sy op ’n stadium net gesien dat die rowers nie meer in die winkel was nie en dat die kasregisterlaaie oop was en alle kontant verwyder was.

Die rowers het met ’n onbekende bedrag kontant sowel as selfone weggekom.

Die Delmas Polisie, Delmas Valke Buurtwag en ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy was binne enkele minute op die toneel.

Lede van die Sundra Bulldogs Buurtwag het ook later op die toneel verskyn waarna die dak van die winkelkompleks gefynkam is, maar daar was geen teken van die rowers nie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button