Operasie deur sekuriteitsmaatskappy en polisie lei tot sukses
JVR Sekuriteit het op Woensdag, 25 Augustus 'n optrede in Bronkhorstspruit se middedorp uitgevoer.
Die publiek in Bronkhorstspruit word daagliks geteiken deur boosdoeners wat hulle van hul persoonlike items beroof.
Dit is veral plaaslike sekuriteitsmaatskappye wat daagliks met dié tendens te doene kry en is baie van hulle kliënte slagoffers van diefstal, roof en inbrake in en diefstal vanuit voertuie. Daar blyk ’n toenemende styging in die diefstal vanuit motors en ook gewone roof, veral in die middedorp te wees.
“Ons het oor ’n redelike lang tyd beeld-materiaal en data ingesamel en profiele van die vernaamste verdagtes opgestel,” het mnr. Jacobus Janse van Rensburg, bestuurder by JVR Sekuriteit in Bronkhorstspruit, Streeknuus meegedeel.
JVR Sekuriteit het op Woensdag, 25 Augustus ‘n optrede in Bronkhorstspruit se middedorp uitgevoer.
Die hulp van ‘n lid van die polisie se K9-eenheid was ingeroep om die skuilplekke van die verdagtes te deursoek.
Daar is beslag gelê op ’n verskeidenheid persoonlike items, onder andere huissleutels, ID-dokumente en bestuurderslisensies.
“Uiteraard was die waardevolle items soos selfone, skootrekenaars nie meer in die verdagtes se besit of skuilplekke gekry nie. Hierdie items word as ‘vinnige verkopers’ beskou en word meestal baie gou van die hand gesit,” het mnr. Janse van Rensburg verder gesê.
“Daar was ook afstandbeheerversteuringsmeganismes (remote jammers) in van die verdagtes se sakke gevind.”
Die span het ook op ander goedere soos suurstofbottels en -apparatus beslag gelê.
Dit blyk dat gebiede wat kommer wek en waar die meeste gevalle voorkom, die hoek van Kerk- en Lanhamstrate is, met die Kerkstraat-omgewing as die bedrywigste gebied vir hierdie boosdoeners.
Mnr. Janse van Rensburg het gevra dat die publiek wat slagoffers van hierdie rowers is of wie se eiendom l vanuit hulle motors gesteelword, die sake by die polisie moet aanmeld en ’n saaknommer verkry.
“As ons wel dan iemand in hegtenis neem of van hierdie gesteelde goedere word teruggevind, kan die verdagte sodoende vervolg word.”
Die polisie beskik dan ook oor akkurate inligting vir statistiese doeleindes wat nodig is sodat die regte hulpbronne op die mees doeltreffende manier ontplooi kan word.”
Van die belangrikste wenke wat met die publiek gedeel kan word, is om baie seker te maak dat jou voertuig wel gesluit is voordat jy dit verlaat, en moet geen waardevolle items binne jou motor hou nie.
Kyk uit vir verdagte persone wat rondstaan en by voertuie inkyk en as jy hulle opgemerk, meld dit by jou sekuriteitsmaatskappy of die polisie aan.
Mnr. Janse van Rensburg het beklemtoon dat alle misdaad, hoe gering ook al aan die polisie gerapporteer moet word en ’n saaknommer verkry moet word.






