CrimeNews

Bejaarde kinderverkragter is uiteindelik agter tralies

Balfour-verkragter bly in aanhouding totdat hy gevonnis word.

Hermanus (Manie) Senekal (80), ’n bejaarde man van Balfour wat op 33 aanklagtes van seksuele aandranding op kinders tereg gestaan het, is uiteindelik agter tralies.

Senekal is op Woensdag, 17 November in die Secunda Streekhof wat met seksuele aanklagtes werk, skuldig bevind aan die verkragting op een van die kinders.

Dié hofsake duur al nege jaar in twee afsonderlike howe en Senekal en sy oorlede vrou, me. Marie Senekal, was 71 jaar oud toe die sake begin het.

Me. Senekal is in Junie in 2019 aan kanker dood.

Senekal is destyds in hegtenis geneem in verband met die verkragting en onsedelike aanranding van verskeie dogtertjies wat in die Babbelbekkies Kleuterskool was wat sy vrou by hul huis op Balfour bedryf het.

Die sake is verskeie kere uitgestel omdat Senekal op ’n stadium in die hospitaal was en ander regsverteenwoordigers gekry het.

Die saak wat in die Secunda Streekhof aangehoor is, het slegs betrekking op een van slagoffers.

Senekal het in dié saak die aanklagtes teen hom ontken, maar die streeklanddros, mnr. Graham Cupido, het hom Woensdag skuldig bevind aan die verkragting en onsedelike aanranding en het besluit om hom in aanhouding te hou.

Dit kom ná Senekal se regsverteenwoordiger eers ’n voorvonnisverslag van die hof vereis het.

Die staatsaanklaer, me. Tracy Keen-Horak, wat al bykans 10 jaar aan Senekal se hofsake werk, het egter versoek dat Senekal dan in aanhouding geplaas word omdat hy immers Woensdag skuldig bevind is en dus nie meer onskuldig is nie.

Senekal het verbaas gelyk toe hy hoor hy word in aanhouding geplaas en eers het hy gevra of hy nie tot 9 Desember, wanneer sy saak weer voorkom, buite die tronk kan bly nie omdat hy glo dié week ’n dokter moet gaan sien vir verskeie gesondheidsprobleme.

Me. Keen-Horak het egter aangevoer dat daar wel mediese sorg beskikbaar is, selfs al is ’n mens in die tronk.

Sy het ook aangevoer dat Senekal se hofsaak al ’n vorige keer uitgestel is omdat hy in die hospitaal was en hy het sekerlik genoeg tyd gehad om dokters te gaan sien, veral as hy geweet het, hy sou Woensdag gevonnis geword het.

Senekal het toe weer gevra wat sou van sy motor word waarmee hy hof toe gery het en die landdros het hom meegedeel dat hy iemand kan reël om sy motor huis toe te neem.

Senekal se saak is na Donderdag, 9 Desember uitgestel vir vonnisoplegging.

Die slagoffer in die saak wat in die Secunda Streekhof beslis is, was destyds ses jaar oud toe Senekal haar verkrag het.

Haar ouers was Woensdag in die hof en was verheug toe hulle hoor Senekal gaan uiteindelik tronk toe.

“My dogter was al 15 toe ons eers uitgevind het hy het haar verkrag toe sy ses was,” het dié slagoffer se ma gesê.

Senekal het dié jong slagoffer een keer verkrag en haar ma het gesê sy en haar man het dit nooit agtergekom nie.

“Ons het uitgevind van alles toe my ander dogter een aand vir ons gesê het sy is bekommerd oor haar sussie, want sy is by ’n partytjie en het begin alkohol gebruik.

“Ek en my man gebruik nooit alkohol nie.

“Ons het haar toe gaan haal by die huis waar die partytjie was en sy was baie dronk.

“Sy het begin huil toe sy in my kar geklim het, en het toe uitgekom met alles en gesê daardie oom het haar baie seergemaak en sy wil nooit weer sy naam hoor nie.

“Dit was dieselfde tyd wat van die ander slagoffers na vore gekom het en hul stories in die nuus was en ek het nie geweet my dogter het dit gevolg nie.”

Dié ma het vertel dat Senekal haar dogtertjie na een van die kamers in die huis gelok het met die belofte dat hy vir haar grondboontjies of lekkers sou gee.

Toe hulle egter in die kamer gekom het, het hy die deur agter haar gesluit, haar hande en voete vasgebind en haar mond toegeplak sodat sy nie kon skree nie.

“Hy het, nadat hy haar mond toegeplak het met kleefband (duck tape), haar bene weer losgemaak en haar verkrag.

“Toe het hy gesê sy moet haarself gaan skoonmaak en teruggaan na die ander maatjies.

“Sy vrou moes geweet het hy doen dit, want op daardie dag, nadat hy my kind verkrag het en sy terug was by die ander maatjies, was dit tyd vir hul middagslapie.

“Die ander kinders het reeds op hul matrassies gelê en my kind se maatjie het altyd vir haar plek gehou langs haar, maar die tannie het haar matrassie eenkant toe geskuif en gesê sy moet eenkant lê want sy gaan die ander maatjies pla,” het die ma vertel.

Dié jong slagoffer het, toe sy 15 was, vir forensiese ondersoeke gegaan na die bekentenis aan haar ouers en al dié besonderhede het in dié ondersoek uitgekom.

“Ons is net bly hy gaan uiteindelik tronk toe,” het haar pa gesê.

“Al sit hy net daar totdat sy saak weer voorkom, dan het hy ten minste gevoel hoe dit is om in die tronk te wees.”

“Dit was al die tyd en lang wag werd om te sien hoe stap hy as ’n veroordeelde verkragter na die hofselle,” het die slagoffer se ma gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button