CrimeNewsStreeknuus

N12-liggaam: Polisie glo Franse vrou is elders vermoor

Me. Adeline is na alle waarskynlikheid elders vermoor waarna haar liggaam op geheimsinnige wyse in die stormwatersloot digby Delmas beland het.

Me. Lia Adeline, ’n Franse vrou van die Seychelles wie se liggaam verlede maand langs die N12 gevind is, is heel moontlik nie in haar huis in Crystalpark, Benoni, vermoor nie.

“Tydens ’n besoek van die ondersoekbeampte aan die woning, kon geen aanduidings van ’n struweling of enige bloed gevind word nie,” het kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie, gesê.

Dié 45-jarige me. Adeline is na alle waarskynlikheid elders vermoor, waarna haar liggaam op geheimsinnige wyse in die stormwatersloot digby Delmas beland het.

Haar liggaam het vir bykans ’n maand as ’n onbekende vrou in die lykshuis op Delmas gelê.

Die vermoorde me. Lia Adeline. (Foto: Facebook)

Binne enkele ure nadat die profiel van ’n vermiste persoon verlede week op sosiale media verskyn het, is haar liggaam positief uitgeken as dié van me. Adeline.

Familielede, vergesel deur lede van die Seychelles Hoë Kommissie, het op Woensdag, 17 November bevestig dat die liggaam van ’n vermoorde vrou, dié van me. Adeline is.

Me. Adeline se bejaarde moeder, slegs bekend as Agnes, het haar dogter se liggaam uitgeken.

Dié gebeure het gevolg nadat die halfnaakte liggaam van ’n vrou op Vrydag, 22 Oktober omstreeks 14:00 deur ’n verbyganger teen ’n wal by ’n stormwatersloot by die Argent/Dwarsfontein-afrit aan die N12, in die rigting van Witbank, opgemerk is.

Die liggaam in die lykshuis in Delmas is etlike ure na dié plasing op sosiale media, wat haar as vermis aangegee het, positief uitgeken as dié van me. Lia Adeline, ’n burger van die Seychelles. (Foto: Facebook)

Lede van die Middelburg Blitspatrollie is in kennis gestel, waarna die Delmas Polisie na die toneel ontbied is (Streeknuus, 5 November).

Onder die slagoffer se liggaam was ’n kombers, laken en handdoek. ’n Bloesie met blommotiewe is ook naby die liggaam gevind.

Sy was slegs in ’n swart skibroek geklee.

’n Bos sleutels, van onbekende oorsprong, is op die toneel gevind.

Dit is nog onbekend of die sleutels met die moord op me. Adeline verbind kan word.

Tydens ’n nadoodse ondersoek, is bevind dat sy vier harde houe aan die regterkant van haar kop, agter haar oor toegedien is.

Die moontlikheid dat die houe deur van ’n gholfstok toegedien is, is genoem.

Me. Adeline se halfnaakte liggaam is op 22 Oktober in ’n stormwatersloot aan die N12, digby Delmas, gevind.

Me. Adeline het in Maart 2019 met ’n man van Malawiese afkoms in die huwelik getree, maar die egpaar het intussen vervreemd geraak.

Streeknuus het intussen ook betroubaar verneem dat ’n aansienlike bedrag uit me. Adeline se rekening onttrek is tussen die dag waarop sy verdwyn het, en toe haar liggaam gevind is. ’n

Vriendin van me. Adeline het ook bevestig dat sy op 21 Oktober vir die laaste keer met me. Adeline in kontak was, maar dat iets in haar (me. Adeline) stemtoon nie pluis geklink het nie.

Teen druktyd kon kapt. Hartley slegs bevestig dat die ondersoek na die moord op me. Adeline prioriteit geniet.

Niemand is nog in verband met haar dood in hegtenis geneem nie.

LEES OOK: Vrou wie se liggaam aan die N12 gevind is, het nou ’n naam

Verbygangers vind vrou se lyk langs N12

Polisie meen vrou is met gholfstok doodgeslaan

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button