Francois Walters van Bronkhorstspruit skud 51kg af en wen kompetisie
“Bly hoop in wat jy wil bereik, hoop in jou drome al neem dit tyd en al gee jy moed op dan sal daardie hoop jou aan die gang hou tot jy jou droom bereik het”
Mnr. Francois Walters (26) het die Arnold Schwarzenegger Liggaamstransformasie-kompetisie, ook bekend as die Lifestyle Transformation Marathon gewen.
Ná 12 jaar se voorbereiding en harde werk, pronk die medalje wat hy ontvang het tydens die spog-geleentheid op 20 November waar hy as wenner aangewys is, nou om sy nek.
Die oomblik was groot omdat al die berge wat voor hom was terwyl hy 51 kg afgeskud het, nou uiteindelik uitgeklim is.
“Ek staan nou op die kruin en gesondheid het nog nooit so goed gevoel nie.
“Vir my is die deelname ’n wonderwerk opsigself. Die wen het werklik vrede en verligting gebring.” het mnr. Walters laat hoor.

Nie net het mnr. Walters ’n medalje en pryse gewen nie, maar sy verhaal sal ook in die tydskrif Muscle and Health South Africa tyskrif verskyn.
Vanjaar se Arnold Classic Africa-kompetisie het ’n bykomende kategorie gehad wat spesiaal onderhandel is deur van die leiers in die Herbal Life for South Africa-gemeenskap.
Die kompetisie is nou vir die eerste keer in Suid-Afrika geloods en die tweede ronde beloof om ’n vyf week-maraton te wees wat in Mei saam met die groot kompetisie van 2022 sal plaasvind.
Dié maraton liggaamstransformasie-kompetisie het oor ’n tydperk van drie rondes van 10 dae elk gestrek deur die Herbal Life-produkte te gebruik.
Die hoogste persentasie gewigsverlies in verhouding met jou liggaamsgewig, tesame met die grootste hoeveelheid gewig in kilogram te verloor is hoe die resultaat bepaal is.
Dit word in ouderdoms kategorieë aangebied en enige iemand van alle ouderdomme kan hieraan deelneem.
“Ek gaan jaarliks aan dié kompetisie deelneem om te sien hoe vêr ek kan gaan. Dit dryf net my begeerte om mense te motiveer wat sukkel om hindernisse in hul lewens te oorkom.”
Die kompetisie is veral gemik daarop om toeskouers te inspireer om van hul sitplek af op te staan en te beweeg -tree vir tree – om doelwitte te bereik.
Die nuwe wending wat die kompetisie neem om sport op alle vlakke, maar ook nou gesonde en gebalanseerde leefstyle aan te moedig, maak die kompetisie nog meer dinamies.
Die Arnold-sportfees bied elke jaar multisportfeeste op ses kontinente aan, insluitend die Arnold Classic Africa, wat elke Mei in Johannesburg, Gauteng, plaasvind.

Die Arnold Sportfees VSA word in Maart in Columbus, Ohio, gehou, gevolg deur geleenthede in Melbourne, Australië, Brasilië, Hong Kong en Spanje.
Alle geleenthede bevat professionele liggaamsbou en verwante kompetisies, amateur-liggaamsbou, krag- en gevegsport, ‘n groot gesondheids- en fiksheidsekspo en jeuggeleenthede wat van kontinent tot kontinent verskil.
Drie jaar gelede het vier Suid-Afrikaanse liggaamsbou- en sportentoesiaste saamgewerk om die Arnold-sportfees ’n werklikheid op die Afrika-kontinent te maak onder die breë tema ‘My Sport, My Passie’.
In vennootskap met die Gautengse provinsiale regering en die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASCOC), bied Arnold Classic Africa aan atlete die geleentheid om aan ‘n internasionale kompetisie, teen deelnemers van alle vastelande, in Afrika deel te neem.
Soos sy wêreldwye eweknieë, omhels die Afrika-vertolking talle sportkodes en bevorder dit deur demonstrasies, kompetisies, rekordpogings en sportberoemdhede oor drie dae elke Mei.



