Die pa van ’n jong vrou wat vandag in haar 20s is, het op Donderdag, 9 Desember, in die Secunda Streekshof gehuil toe sy vrou ’n vertoë aan die hof gerig het oor hoekom Hermanus (Manie) Senekal (84), nie ’n ligte vonnis moet kry nie.
Senekal, ’n bejaarde man van Balfour wat in November in die Secunda Streekshof skuldig bevind is aan die verkragting van ’n sesjarige dogtertjie, is op Donderdag, 9 Desember tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Dié saak is na bykans 10 jaar uiteindelik afgehandel, maar Senekal staar ook nog 32 ander aanklagtes van seksuele dade met kinders in die gesig.
Senekal se oorlede vrou, Marie, is ook destyds aangekla en beide was al in hul sewentigs toe die hofsake begin het. Me. Senekal is in Junie in 2019 aan kanker dood.
Beide is destyds in verband met die verkragting en onsedelike aanranding van verskeie dogtertjies wat in die kleuterskool was wat me. Senekal vanaf die egpaar se huis op Balfour bedryf het, in hegtenis geneem.
Senekal se prokureur het Donderdag in die hof aangevoer dat Senekal aan depressie ly sedert sy vrou se dood en versoek dat hy ’n ligte vonnis kry omdat hy ook verskeie gesondheidsprobleme het en al bejaard is.
Sy het gesê Senekal is ’n bekende in die gemeenskap en het op verskeie komitees gedien, was ’n skoolhoof vir jare en was die skriba van ’n kerk.
Senekal is sedert sy skuldigbevinding in November, in aanhouding by Bethal Gevangenis.
Sy prokureur het ook gesê die dokter besoek net een keer elke agt dae dié gevangenis en dit is ’n bekommernis weens sy gesondheidsprobleme.
Sy het voorgestel dat Senekal eerder ’n opgeskorte vonnis of net korrektiewe toesig as straf uitdien, wat beteken hy gaan nie tronk toe nie.
Die dogtertjie se ma het gevra om die landdros, mnr. Graham Cupido, in die hof toe te spreek voordat hy Senekal se vonnis oplê.
Sy het gesê dit was gruwelike dade wat Senekal met haar dogtertjie gepleeg het.
“Hy het my kind seksueel en fisies mishandel,” het die ma in die hof gesê.
“Hy het haar hande en voete vasgebind en haar misbruik vir sy eie genot sonder om haar menswees in ag te neem.
“Hy het gedreig om dit weer te doen as sy vir iemand sou vertel, hy het geen respek vir my kind gehad nie.
“Hy het haar verneder en haar reg om veilig te voel van haar ontneem.
“Hy was reeds ’n bejaarde man van 64 toe hy haar toegesluit het in die pienkkamer en verkrag het.”
Die ma het versoek dat die hof geen toegewings moet maak as Senekal gevonnis word nie en gesê hy het nie haar kind se ouderdom in ag geneem toe hy haar verkrag het nie.
Sy het vertel dat haar kind slapelose nagte het sedert die verkragting, al vyf keer haar eie lewe probeer neem het en steeds sukkel met angsaanvalle.
“Hy is selfsugtig en het my kind en ons lewens in ’n oogwink verander.
“My kind het nie die voordeel gehad om te vra vir uitstel nie, want hy was die regter en die aanklaer.
“Hy het nooit om verskoning gevra of enige berou getoon vir sy dade nie.
“Ek sou simpatie en respek vir hom kon hê as hy redes sou kon gee hoekom hy dit aan my kind gedoen het.”
Die ma meen dié dag in die hof, was die oesdag vir Senekal en omdat hy hartseer en trauma gesaai het, kan hy nie verwag om enige iets anders te oes nie.
“Hoewel ons as gesin hom vergewe het, stel dit hom nie vry van straf nie.”
Die ma meen Senekal is veilig in die tronk waar hy nooit weer sy hande op enige kind kan lê nie.
Die staatsaanklaer, adv. Tracy Keen-Horak, het gesê Senekal het geen simpatie getoon nie en hy het baie tyd bestee om aan die hof te vertel watter goeie man hy is.
“Dit is dikwels mense in posisies waar hulle toegang het tot kinders wat sulke dade pleeg, want hulle dink hulle gaan wegkom daarmee,” het adv. Keen-Horak gesê.
“Hy is ’n gevaar vir enige kind en ek weet nie hoe oud sy kleinkinders is nie, maar hy is gevaarlik.”
Mnr. Cupido het gesê die dogter is gedwing om in die hof haar getuienis te gee en is sodoende weer eens aan trauma blootgestel.
“Fisiese wonde verdwyn, maar emosionele wonde verdwyn nooit nie en dié kind lei steeds weens van dit wat aan haar gedoen is.”
Die ouers was verheug toe mnr. Cupido gesê het Senekal sal 15 jaar tronkstraf uitdien vir verkragting en vier jaar vir aanranding.




