
Die stiefpa van ’n 10-jarige dogter is in Desember twee keer lewenslank gevonnig op aanklagte van verkragting.
Dié man (32) en die slagoffer se ma was verloof en het saamgewoon.
Hy het saans as die kind slaap na haar kamer gegaan en haar verkrag terwyl haar ma ook geslaap het.
Die dogter se ouma het agtergekom haar kleindogter ruik na urine en het gesien sy is sensitief toe sy haar bad. Die ouma het toe gevra wat fout is.
Die dogter het gesê haar ‘pappa’ kom lê by haar in die nag en het haar gedreig dat hy haar sou straf as sy vir enige iemand sou vertel wat hy doen.
Die man is ook aangekla vir seksuele gereedmaking en blootstelling van pornografie omdat hy ook vir die dogter pornografie op sy skootrekenaar gewys het.
Dié dade het oor ’n tydperk van vier jaar plaasgevind en die dogter was net drie jaar oud toe dit begin het.
Hy het op 26 Februarie 2018 vir die laaste keer sy stiefkind verkrag en is op 27 Februarie 2018 in hegtenis geneem. Hy was egter op borgtog vrygelaat.
Die saak is op 14 Desember verlede jaar afgesluit toe die man uiteindelik in die Secunda Streekhof gevonnis is.
Die polisie wil ouers herinner dat dit ’n oortreding is om nie ’n saak aan te meld as kinders verkrag of gemolesteer of verwaarloos word nie.
Die ma of pa wat daarvan weet en niks sê nie, kan ook aangekla en krimineel vervolg word en tronk toe gaan.
Die polisie het ouers en familielede aangemoedig om sulke voorvalle dadelik aan te meld.



