CrimeNewsStreeknuus

Gewapende rowers misgis hul met toestand van R50-pad in die Delmas-omgewing

Weens die swak toestand van die pad in die omgewing van Da Rocha op die R50, het die rowers vasgeval en kon hulle nie verder ry nie.

Gewapende rowers het, te midde van ’n deurdringende reën op Delmas, die plaaslike Super Savers-winkel in Sarel Cilliersstraat beroof.

Volgens ’n mediaverklaring deur brig. Selvy Mohlala, polisie-mediawoordvoerder vir Mpumalanga, het vier gewapende mans die winkel op Woensdag, 12 Januarie binnegegaan en ’n vuurwapen op die eienaar gerig.

Hulle het op die sleutels van die kasregister aangedring en ’n onbekende bedrag kontant gebuit.

Die rowers het hierna na die agterkant van die winkel gegaan waar hulle ’n skootrekenaar, vyf selfone en 58 kartonne sigarette gesteel het.

Die rowers het in ’n wit VW Polo in die rigting van die R50 gevlug.

Die polisie is in kennis gestel.

Weens die swak toestand van die pad in die omgewing van Da Rocha op die R50, het die rowers vasgeval en kon hulle nie verder ry nie.

Intussen was die bystand van die plaaslike buurtwagte ingeroep en het die soektog na die rowers voortgegaan.

Die Delmas Polisie het een van die rowers vasgetrek, terwyl die ander drie te voet gevlug het.

Die R50-pad is egter tans in ’n baie slegte toestand weens padwerke en die aanhoudende reën maak die pad haas onbegaanbaar vir gewone voertuie.

Buurtwag-lede wat oor bakkies beskik, het in die omgewing van die R50 sowel as die N12 na die oorblywende drie rowers gesoek, maar die booswigte het die polisie en buurtwaglede ontduik.

Daar is wel beslaggelê op ’n wit VW Polo sowel as die gebuite sigarette.

Brig. Mohlala vra dat enige iemand wat meer inligting omtrent die roof kan verskaf, met sers. Titus Mthimunye by 013 668 2300 / 1 in kontak kom.

Lede van die publiek wat oor inligting beskik, kan ook die Stop Misdaad-nommer by 08600 1011, skakel.

Inligting kan ook anoniem en vertroulik via die My SAPS Facebook-toep verskaf word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button