CrimeNewsStreeknuus

Ontvoerde mans vry ná 17 dae in Sundra-huis

Die vyf ontvoerdes Bangladesjiers was glo met ’n taxi na Sundra vervoer waar hulle sedert 26 Desember verlede jaar in ’n rondawel op die perseel in John Vorsterstraat in Sundra aangehou was.

Vyf mans tussen die ouderdomme van 22 en 27 jaar is Sondag, 16 Januarie, uit ’n rondawel by ’n huis op Sundra gered.

Die gebeure het gevolg nadat die polisie dié dag ’n klopjag op die huis uitgevoer het.

Die polisie se vleuel vir georganiseerde misdaad, die lugvleuel van Johannesburg, die Metro-polisie, die nasionale misdaad intelligensiediens, die Metro-polisie se K9-eenheid en ook privaat veiligheidsmaatskappye het deel van die operasie gevorm.

Volgens betroubare inligting, het die vyf mans glo elk ’n bedrag van $3000 betaal onder die voorwendsel dat werk aan hulle in Suid-Afrika verskaf sou word.

Die vyf mans wat tydens ’n klopjag uit ’n rondawel op ’n perseel op Sundra gered is.(Foto: Verskaf)

Die mans het glo via Dakar na Dubai en toe deur Malawi die land binnegekom.

Hulle sou glo die land onwettig deur die Lebombo-grens binnegekom het.

Die vyf ontvoerde Bangladesjers was glo hierna met ’n taxi na Sundra vervoer waar hulle sedert 26 Desember verlede jaar in ’n rondawel op die perseel in John Vorsterstraat op Sundra aangehou is.

Die mans was vir 17 dae, onder skynbaar haglike omstandighede, aangehou.

Die polisie het tydens die klopjag ook op drie onwettige tuisgemaakte vuurwapens afgekom.

Volgens die polisie, dui ’n voorlopige ondersoek daarop dat lospryse van die ontvoerde mans se families geëis is.

’n Vertrek in die rondawel waaruit vyf ontvoerde Bangladesjiese mans Sondag gered is. (Foto:Verskaf)

Volgens inligting aan Streeknuus verskaf, is bedrae tussen R90 000 en R100 000 as losprys vir hul vrylating geëis.

Dit is egter tans onduidelik of die families wel van die geld aan die vermeende ontvoerders betaal het, al dan nie.

Volgens mnr. Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag op Sundra, was die huis onder verdenking vir vreemde dinge wat daar gebeur het.

“Die Bulldogs het vantevore al ’n voorval by dié huis in John Vorsterstraat hanteer.”

Volgens mnr. Bester, was daar toe ook buitelanders betrokke en was die omstandighede baie verdag.

Die omstandighede waaraan die vyf ontvoerdes op Sundra blootgestel was. (Foto:Verskaf)

“Ons het altyd geweet dat daar ’n klomp skelms in daardie huis woon. Dit is altyd baie besig en baie geheimsinnig daar,” het ’n inwoner van Sundra, wie verkies om anoniem te bly, gesê.

“Dit is verskriklik om te weet dat hierdie dinge onder ons neuse gebeur. Hier waar ons kinders skool toe stap en waar ons van dag tot dag, skynbaar ’n normale lewe op ’n baie klein dorpie leef.

“Wie weet wat het alles in daardie huis gebeur. Dit sal my geensins verbaas as die polisie op nog meer gruwel-dinge tydens hul ondersoek afkom nie,” het die inwoner gesê.

Vier verdagtes is in hegtenis geneem op klagtes van vermeende ontvoering, die besit van onwettige wapens en mensehandel.

Teen druktyd sou die verdagtes in die Delmas Landdroshof verskyn het.

Items waarop daar tydens die polisie se klopjag beslaggelê is. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button