Sundra-inwoners staan op teen verval van begraafplaas
’n Groep vrywilligers vanuit die gemeenskap het op Saterdag, 29 Januarie het die bul by die horings gepak.
Vir die inwoners van Sundra was die verval van hul geliefdes se laaste rusplek net nie meer aanvaarbaar nie.
’n Groep vrywilligers het op Saterdag, 29 Januarie het die bul by die horings gepak.
Die begraafplaas is skoongemaak en is nou weer toeganklik vir beide die publiek en begrafnisondernemers.

Eie toerusting is verskaf en oud en jonk het ingespring om die verwaarloosde begraafplaas skoon te maak.
Beide Pieter Senekal, raadslid vir die Vryheidsfront Plus in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit en Diane Bath, raadslid van die Demokratiese Alliansie,verwelkom die inisiatief van die gemeenskap.

Die begraafplaas was egter nie die enigste projek wat Sundra se inwoners aangepak het nie.
Die verval van paaie in die omgewing het die inwoners van Visagiestraat in Sundra genoop om iets omtrent die toestand van die straat te doen.
Die feit dat dit die vorige aand gereën het, het nie die inwoners afgeskrik nie.

Kaalvoet en gewapen met laaigrawe, vragmotors en vulsel het die straat ook ’n nuwe baadjie aangetrek.
“Dit is verblydend om te sien dat die Sundra-gemeenskap so kan saamstaan om hul omgewing te verbeter.
“Baie dankie aan almal wat gehelp het. Ons as inwoners bedank ook die munisipaliteit bedank vir die span wat hulle gestuur het om uit te help met die skoonmaak van die begraafplaas,” het Senekal gesê.




