Vragmotorkapers het diep die ruie mielielande ingevlug toe die Delmas Polisie Vrydag, 18 Februarie op hulle losgebrand het.
Delmas Polisie het dié aand verskeie vragmotors met sojaboon-vragte tydens ’n operasie na veiligheid gebring. Veelvuldige in hegtenisnames is ook gemaak.
Volgens kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie, het hulle inligting ontvang dat twee vragmotors met wavragte soja moontlik deur die aand gekaap sou word.

Lede van die polisie en die plaaslike buurtwag was op gereedheidsgrondslag geplaas.
Teen omstreeks 18:00 is die twee vragmotors by die Tutuni Truck Stop aan die R50 net buite Delmas opgemerk.
Die polisie het die vragmotors gevolg waarna hulle op die R548-pad na Devon afgedraai het.
Die verdagtes het skynbaar vermoed dat hulle agtervolg word en het gepoog om die polisievoertuie van die pad af te dwing.
Dis toe dat die polisie met geweervuur losgebrand het.

Die verdagtes het beheer oor die vragmotors verloor en diep in mielielande langs die R548 beland.
Met die vragmotors se enjins wat nog luier, het die verdagtes dieper die mielielande ingevlug.
Volgens kapt. Hartley, het die polisie weens die omvang van die situasie om meer bystand gevra.

Bystand in die vorm van addisionele lede van die polisie, AfriForum se Delmas Valke Buurtwag, die Bulldogs Buurtwag in Sundra, AAA-Sekuriteit en die Botleng-teenkapingspan was binne minute op die toneel.
Terwyl ’n soektog na die verdagte kapers besig was, het lede op ’n Volvo-vragmotor met sleepwaens en twee taxi’s langs die pad afgekom.
By nadere ondersoek het die bestuurder van die Volvo-vragmotor uitgespring en van die toneel gevlug.

Hy is egter vasgetrek en saam met 37 ander verdagtes in hegtenis geneem.
Daar is ook elf 25l plastiese emmers binne die taxi’s gevind.
Volgens kapt. Hartley, word die emmers gewoonlik gebruik om gesteelde sojavragte van gekaapte vragmotors en waens na ander vragmotors oor te laai.
Die verdagtes is na die Delmas Polisiestasie geneem waar hul verklarings geneem is.
Lede van die Devon Polisie het die twee bestuurders van die gekaapte vragmotors na Delmas geneem nadat hulle vroeër die aand op Devon deur die kapers afgelaai was.
In die proses kon die polisie daarin slaag om twee gekaapte UD-vragmotors en vier waens met sojavragte terug te vind.
Daar was verder ook op ’n wit Volvo-vragmotor met sleepwa en twee taxis, sowel as elf 25l-emmers beslag gelê.




