CrimeNewsStreeknuus

Transito-roof op R42 buite Delmas ontaard in mini-oorlog

“Mense moet kennis neem dat Mpumalanga nie ’n plek is waar kriminele kan maak soos hulle wil nie. Die formidabele span is gereed om vuur met vuur te beantwoord.”

“Dit was vreeslik. Die skote het om ons geklap en jy het nie geweet wanneer tref ’n koeël jou nie,” het ’n lid van SBV gesê wat Maandag, 28 Februarie homself in die middel van ’n transitoroof op ’n brug oor die N12-selweg bevind het.

“Daar was verskriklik baie van hulle (rowers),” het dié personeellid, wie verkies om anoniem te bly, Streeknuus meegedeel.

“Gister was ek nog in die kerk en vandag gebeur dit.”

“ Ek groet my gesin elke oggend, maar of ek hulle weer ná werk gaan sien, is nie gewaarborg nie. Ons het almal gesinne en kinders.

“Hierdie rowers kom van oral en uit buurlande om ons land te beroof en te besteel. Hulle voel niks vir ’n lewe nie. Die ergste is dat hulle ook gesinne het en nou lê die een se lyk hier by ons.”

“Ons is ongelooflik dankbaar dat nie een van ons SBV-lede gewond of gedood is nie, maar wie weet wat hou môre of die dag daarna vir ons in.”

Die toneel van die poging tot roof op die R42.

Die gepantserde SBV-geldwa was omstreeks 10:00 na Delmas op pad, maar sou nooit hul bestemming bereik nie, want hulle was skielik deur rowers omring.

Na wat verneem word, was sowat 12 gewapende rowers betrokke.

’n Ander wa en gewapende wagte van dieselfde maatskappy was glo besig om kontant by ’n bekende kettingwinkel by die Botleng Mall af te laai toe hulle skielik geweerskote gehoor klap het.

Deur middel van radioverbinding, het hulle verneem dat hul kollegas in groot nood verkeer het.

Die tweede geldwa het toneel binnegebars en ’n mini-oorlog het kort daarna uitgebreek. ’n Lid van die Delmas Polisie se speurafdeling was ook toevallig in die omgewing toe die aanval plaasgevind het.

Hy het onmiddellik die Delmas Polisiestasie geskakel en vir bystand gevra.

Die BMW wat deur die rowers op die toneel agterlaat is.

“Binne sekondes was die toneel dié van ’n klein oorlog,” het ’n ooggetuie Streeknuus meegedeel.

’n Man het ook met sy motor van die pad afgery in ’n poging om uit die spervuur te bly.

“Ek kon nie aanhou ry nie. Die koeëls het om my gefluit.

“Daar was nêrens anders om heen te gaan nie,” het die man gesê.

Patroondoppies word op deur die forensiese span op die toneel gemerk.

Tydens die skermutseling, is een van die verdagtes gewond.

Volgens ooggetuies, het twee van sy makkers die gewonde rower Botleng ingedra, maar skynbaar besef dat hy reeds dood is en die liggaam net daar gelos.

Die verdagte is later op die toneel dood verklaar.

Intussen het twee van die verdagtes ’n Toyota Quantum-taxi gekaap en daarmee op die vlug geslaan.

Hulle is egter deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem.

Die res van die verdagtes het ook gevlug.

Verskeie koeëlgate in die Porsche Cayenne is ’n duidelike teken van die skietery wat op die toneel plaasgevind het.

Twee gekaapte voertuie op die toneel, ’n Porsche Cayene en ’n BMW nutsvoertuig, was vermoedelik by die roof betrokke.

Verskeie lede van die polisie, die polisie se honde-eenheid, die Sundra Bulldogs Buurtwag, Delmas se teen-kapingspan en ook ’n helikopter en privaat vliegtuig het met die soektog na die voortvlugtiges bygestaan.

Volgens inligting, is daar glo drie springstoftoestelle by die geldwa gevind.

Die BMW wat deur die rowers op die toneel agterlaat is.

Daar moes gewag word vir die springstof-eenheid om die springstoftoestelle onskadelik te stel voordat met die ondersoek op die toneel voortgegaan kon word.

Weldoeners vanuit die Delmas-gemeenskap, onder andere Perfect Water, Pick n Pay en die AfriForum Delmas Valke Buurtwag, het water en koeldrank na die toneel geneem om die polisie en SBV se dors in die ongenadige hitte van die son te les.

In die gekaapte voertuie is vuurwapens, ammunisie, magasyne,’n seinbelemmeringstoestel, polisie-radio’s en ’n pepersproei met die polisie se kenteken daarop gevind.

’n Voertuig word uit die veld op die toneel van die roof gestoot nadat die man vir die koeëlreën die veld in moes vlug.

Die Delmas Polisie het kort voor druktyd bevestig dat lede van die gemeenskap glo ook later die aand ’n AK-47 aanvalsgeweer, agt magasyne en 225 koeëls wat in die omgewing gevind is, aan die polisie oorhandig het.

Die R42 was om 18:00 weer vir verkeer oopgestel.

Die liggaam van ’n vermeende rower wat in Botleng gevind is.

Die twee mans wat in hegtenis geneem is, is onderskeidelik 24 en 32 jaar oud.

Teen druktyd sou hulle binnekort in die Delmas Streekhof op aanklagtes van gewapende roof, en die besit van vuurwapens, ammunisie en springstof verskyn het.

Die erg beskadigde gepantserde SBV-geldwa.

Die provinsiale kommissaris van die polisie, luit.-gen. Semakaleng Manamela het die polisie van Delmas geprys vir hul flink en dapper optrede. Manamela het verder ’n waarskuwing uitgereik aan dié wat kanse neem deur geldwaens te beroof:

“Mense moet kennis neem dat Mpumalanga nie ’n plek is waar kriminele kan maak soos hulle wil nie. Die formidabele span is gereed om vuur met vuur te beantwoord.”

Hoewel Manamela in haar verklaring gesê het dat twee van die rowers doodgeskiet is, is slegs een lyk gevind.

’n Vuurwapen en ammunisie is in die kattebak van die Porsche Cayene gevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button