Hooggeregshof op Delmas vonnis meesterbrein agter Kershaw-moord
Regter Vukeya het Themba Moses Masuku gevonnis tot 15 jaar tronkstraf op die klagte van roof met verswarende omstandighede en ’n verdere vyf jaar vir regsverydeling. Die twee vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.
Die derde verdagte in die moord op Chantel Kershaw (44) is verlede week in die Rondgaande Hooggeregshof op Delmas gevonnis.
Themba Moses Masuku (41) het op Woensdag, 2 Maart voor Regter Lindiwe Vukeya verskyn op aanklagtes van roof met verswarende omstandighede en regsverydeling.
Dit het gevolg ná hy skuldig op die twee aanklagte gepleit het.
Weens die feit dat hy skuldig gepleit het en bereid is om teen die ander twee beskuldigdes te getuig, is die saak van moord op Kershaw teen hom teruggetrek.
Volgens Masuku sou hy ook die meesterbrein agter Kershaw se dood wees.
Vonnisuitspraak was vir Vrydag, 4 Maart voorbehou.

Masuku het gevra om nie in dieselfde gevangenis as sy medebeskuldigde aangehou te word nie, omdat hy teen die ander twee beskuldigdes gaan getuig en hy vir sy lewe vrees.
Die aansoek is toegestaan en Masuku het in die Delmas Polisieselle in aanhouding gebly tot en met sy vonnis.
Masuku se skulderkenning het gevolg op die moord op Kershaw op 30 September 2020.
Kershaw is deur drie mans in die motorhuis op ’n kleinhoewe op Rietkol, waar sy saam met haar ma, Grieta Spiers gewoon het, oorval. (Streeknuus, 9 Oktober 2020)
Spiers is binne die huis aangerand en vasgebind en die twee se huishulp is ook in die toilet toegesluit.
Kershaw is, nadat Spiers haarself kon bevry en om hulp geroep het, in die motorhuis dood aangetref. Sy is vasgebind, aangerand en verwurg.
Twee verdagtes, Elvis Kenneth Mashego en Reuben Thomas Tivane, het in Spiers se Chevrolet-bakkie van die toneel gevlug, maar is enkele minute later in ’n ongeluk op die R50 betrokke. Albei verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem.
Dit het egter gou aan die lig gekom dat die tuinier, Moses Masuku, ook by die aanval betrokke was en hy is dieselfde dag aangekeer.
Masuku was ten tye van die aanval reeds vir vyf jaar in diens van die Spiers-familie en boonop glo die seun van die huishulp.
Onduidelikheid bestaan nog by Spiers dat Masuku haar huishulp se seun kan wees.
“Moses is 41 jaar oud en sy ma, Maria is in 1972 gebore. Maria was dus nog ’n klein kind toe Moses gebore is. Iets klop nie,” het Spiers Streeknuus meegedeel.

Regter Vukeya het op Vrydag, 4 Maart, aangevoer dat met ernstige inagneming van Masuku se persoonlike omstandighede, sy nie ’n rede kon vind om sy vonnis ligter as die voorgeskrewe 15 jaar te maak nie.
“Jy was van huisvesting, kos en geld deur die Spiers voorsien.
“Jy het self erken dat jy as die meesterbrein opgetree het, inligting aan die ander verdagtes voorsien het, hulle gehelp het in die uitvoering van hul taak en jou skuldig gemaak het aan regsverydeling deur aanvanklik voor te gee dat jy ’n onskuldige slagoffer was, maak dit vir my onmoontlik om jou vonnis te verkort,” het Regter Vukeya gesê.
“Jy (Masuku) staan hier omdat jy beplan het om ’n misdaad te pleeg, gedryf deur gierigheid,” het Regter Vukeya gesê.
“Jy het die slagoffer, me. Spiers deur ongelooflike trauma en hartseer gesit en sy gaan steeds daagliks daardeur. Jou werkgewer het jou volkome vertrou.”
Regter Vukeya het Masuku tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op die klagte van roof met verswarende omstandighede en ’n verdere vyf jaar vir regsverydeling.
Die twee vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.
“Ek voel verlig oor Moses se vonnis, maar dit bring nie my kind terug nie,” het Spiers gesê.



