CrimeNewsStreeknuus

Delmas-gemeenskap verslae na nóg ’n boer vermoor word

“Die verdagtes moet gevind en gestraf word. Dit is regtig ’n skande dat kriminele onskuldige slagoffers teiken, hulle beroof en dan skaamteloos vermoor.”

Aangerand en skynbaar met baaltou verwurg – dit is die wrede lot van ’n plaaslike boer, Gustav Rappard (76).

Die boodskap wat elke boeregemeenskap vrees, het Sondag, 20 Maart vinnig op sosiale media versprei: “Daar was ’n plaasaanval op die Devon-pad, ondersteuning dringend benodig.”

Die gemeenskap het kort daarna met afgryse van die wrede dood van Rappard verneem.

Sy vrou, Elma, is met toue vasgebind en was onbewus van wat met haar man gebeur het.

Volgens lt.-gen. Semalakeng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris het die voorval omstreeks 11:00 plaasgevind.

Die Rappards was dié rustige Sondag tuis op hul plaas Welgevonden, sowat 10km buite Delmas op die R548 Devon-pad.

’n Motor het glo toeter by die hek geblaas en Rappard het gaan ondersoek instel.

Wyle Gustav Rappard en sy vrou Elmas Rappard. (Foto: Facebook)

Die mans by die hek het aangedui dat hulle hooibale wou koop, maar Rappard het gesê dat dit Sondag was en hy hulle nie kon help nie.

Hy het egter glo van plan verander en toe besluit om die mans tog te help.

Hy is hierna glo oorval, vasgebind, aangerand en met baaltou verwurg.

Vier verdagtes het hierna die huis binnegaan waar hulle kontant van Elma geëis het. Daar was glo nie kontant in die huis nie en die aanvallers het voortgegaan om Elma met toue vas te bind.

Volgens lt.-gen. Manamela, het die mans hierna die huis deursoek.

Die verdagtes het later met slegs twee selfone te voet van die toneel gevlug.

Elma, onbewus van wat met haar man gebeur het, het na ’n naburige plaas geloop om hulp te ontbied. Die polisie en ambulans is na die toneel ontbied nadat haar man se liggaam in ’n skuur op die plaas gevind was.

Met hul aankoms op die toneel was Rappard egter dood.

Kapt. Carla Hartley, media woordvoerder van die Delmas Polsie, het intussen gewaarsku dat die publiek hulself nie moet skuldig maak aan die oortreding van die POPI-wet deur onbevestigde inligting te versprei nie.

Die skuur (regs) waar die moord op Gustav Rappard plaasgevind het. (Foto: Verskaf)

Dít het gevolg na die verspreiding van foto’s van ’n ou blou Toyota Hilux-bakkie met die gesig van ’n man duidelik op die foto sigbaar wat skynbaar by die aanval betrokke sou kon wees.

Volgens betroubare inligting was die foto twee weke voor die moord geneem en vanuit die Argent-omgewing versprei.

“Die polisie ondersoek nog die voorval en leidrade word opgevolg. Die feit dat plaaswerkers glo die voertuig op ’n pad in die omgewing van die moord opgemerk het, beteken nie dat die bakkie of die man by die aanval betrokke was nie. ’n Moontlik onskuldige man kan nou as ’n plaasmoordenaar gebrandmerk word,” het Kapt Hartley gesê.

Lita Fourie, hoof-organiseerder van die Witkruis Monument, het ook haar misnoeë oor die nuutste plaasmoord-statistiek uitgespreek.

“Dit is hartseer. Dit raak ons almal, dit is ons gemeenskap en dit is die hoeveelste moord wat hier ín die omtrek plaasvind,” het Fourie gesê.

“Ook vir Gustav Rappard sal daar ’n witkruis geplant word, ook hy het nou deel van die statistiek van plaasmoorde in Suid-Afrika geword.”

“Ons wat oorbly kan maar net hoop en bid dat daardie beker by ons sal verbygaan,” het Fourie bygevoeg.

Hierdie is die plek in die skuur op die plaas Welgevonden waar die liggaam van Gustav Rappard gevind is. (Foto: Verskaf)

Lt.-gen. Manamela het die moord op die bejaarde Rappard ten sterkste veroordeel.

“Die verdagtes moet gevind en gestraf word. Dit is regtig ’n skande dat kriminele onskuldige slagoffers teiken, hulle beroof en dan skaamteloos vermoor.”

Teen druktyd is daar nog niemand in verband met die moord op Rappard in hegtenis geneem nie.

Die familie was ook nie vir kommentaar beskikbaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button