CrimeNewsStreeknuus

Moord op Mosambiekse taxi-bestuurder lei tot chaos op N12

’n Groep van sowat 60 minibus taxi’s, sowel as privaat oorgrense taxi’s het die Vrydag by Petroport bymekaargekom, maar geen memorandum is, soos ooreengekom, oorhandig nie.

Ongelukkige lede van die oorgrense taxi-assosiasie het op Vrydag, 25 Maart amok op die N12 tussen die Petroport-vulstasie en Witbank gemaak.

Volgens die polisie van Delmas sou die groep eintlik ’n memorandum oorhandig het.

Dit was die ooreenkoms op ’n vergadering wat op Woensdag, 23 Maart gehou is.

Die stasiebevelvoerder van die Delmas Polisie, kol. Sipho Sithole, het dié vergadering gelei.

Dié byeenkomste het gevolg ná ’n 39-jarige Mosambiekse taxi-bestuurder op Maandag, 21 Maart op die N12 koelbloedig vermoor is.

Die taxi bestuurder was met passasiers vanaf Johannesburg onderweg na Mosambiek toe sy voertuig meganiese probleme gegee het.

Hy het toe na die Petroport-vulstasie aan die N12 teruggedraai om daar om hulp te vra.

Voor hy egter die Petroport bereik het, het die voertuig krag verloor en tot stilstand gekom.

Drie gewapende mans het glo hierna te voorskyn gekom en op geld aangedring.

Volgens ’n mediaverklaring deur kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie, het die taxi-bestuurder aangedui dat hulle nie geld het nie.

Die silwer Toyota van die oorgrense taxi assosiasie is tydens die afvuur van rubberkoeëls beskadig. (Foto: Verskaf)

Die taxi-bestuurder is summier doodgeskiet en die passasiers is van hul selfone en kontant beroof.

Sake van moord en gewapende roof is aanhangig gemaak.

’n Groep van sowat 60 minibus taxi’s, sowel as privaat oorgrense taxi’s het die Vrydag by Petroport bymekaargekom, maar geen memorandum is, soos ooreengekom, oorhandig nie.

Die groep betogers het aangedring om die moordtoneel te besoek.

Die polisie het tussen beide getree en na onderhandelinge is daar ooreengekom dat die groep slegs een laan van die N12 sou gebruik om na die toneel van die moord te beweeg.

Ten spyte hiervan het die betogers voortgegaan en die N12 heeltemal vir verkeer versper.

Toe die groep nie aan die polisie gehoor wou gee nie, is rubberkoeëls gebruik om die groep uitmekaar te dryf en hulle te forseer om die N12 oop te maak.

In die proses is ’n silwer Toyota Corolla beskadig. Twee lede van die betogende groep is ook beseer.

Met brig. Leonard Hlathi se aankoms op die toneel, het onderhandelinge plaasgevind.

’n Ooreenkoms is glo hierna bereik waarna die groep uitmekaar gegaan het.

Die N12 in beide rigtings was omstreeks 13:45 weer vir verkeer oopgestel.

Taxi-bestuurders van die oorgrense taxi assosiasie by die Petroport-vulstasie aan die N12. (Foto: Verskaf)

Intussen het die polisie van Delmas ’n ernstige soektog na die verdagtes geloods.

Die polisie doen ’n beroep op enige lid van die publiek wat moontlik lig op die ondersoek kan werp om die skuldiges vas te trek, om adj.-offisier Makhosini Nkosi op 082 772 1985 te skakel.

Alternatiewelik kan die polisie se STOP MISDAAD nommer 08600 10111 geskakel word.

Inligting kan ook deur middel van die #MySAPSapp verskaf word.

Die polisie gee hul versekering dat alle inligting vertroulik hanteer sal word.

Lede van die publiek wat verkies om anoniem te bly se wense sal ook sodanig gerespekteer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button