DA dreig met mosie van wantroue teen Victor Khanye Munisipaliteit
Inwoners is keelvol vir die swak dienslewering en die tekort aan kommunikasie vanaf die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het op grond van swak dienslewering, met ’n mosie van wantroue in terme van Seksie 51 van die munisipale ordereëls teen die VKLM gedreig.
“Dienslewering in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit bestaan byna glad nie meer nie en die munisipale bestuurder moet hiervoor aanspreeklik gehou word,” het die DA in ’n mediaverklaring op 30 Maart, gesê.
Die inwoners van Delmas en omgewing weet maar al te goed wat die stelling rondom swak dienslewering vir hulle in hul daaglikse bestaan inhou.
Inwoners, woonagtig in Modderfonteinweg en Kleinstraat, moet al sedert Februarie sonder vullisverwyderingsdienste klaarkom.
Volgens die DA, hou hierdie situasie ’n gesondheidsrisiko in nadat die rotpopulasie in dié omgewing met rasse skrede toegeneem het.
Inwoners word boonop daagliks met die opgehoopte vullis se stank gekonfronteer.
Dan is daar ook die kwessie met die algehele swak toestand van die hele omgewing se paaie.
Met betrekking tot Kleinstraat het die Departement van Paaie en Vervoer ’n hoop sand afgelaai, maar die munisipaliteit het glo verder nog niks daaromtrent gedoen nie.
“Die paaie bly ongeskraap. ’n Mens kan nie meer met ’n normale voertuig daar ry nie.
“Die swak toestand van die pad lei tot skade en bande moet gereeld vervang word,“ het die DA in hul brief gerig aan die munisipale bestuurder, Thabo Mashabelo, aangevoer.
Volgens DA-raadslid en koukusleier van VKLM, Diane Bath, is die senior bestuur van VKLM male sonder tal ingelig oor die behoeftes van die inwoners van VKLM en baie beloftes is ter tafel gelê.
“Dit blyk egter asof die belastingbetalers se versoeke op dowe ore val.
“Inwoners is daarom keelvol vir die swak dienslewering en die tekort aan kommunikasie vanaf VKLM.”
Eloff, Sundra en Rietkol se inwoners word ook steeds geteister deur aanhoudende watervoorsieningsonderbrekings.
Delmas weer, word deur aanhoudende en gereelde kragonderbrekings gepla.
Die DA lê dit aan die voete van die munisipaliteit.
“Swak dienslewering en gebrek aan instandhouding is die rede vir die swak voorsiening van krag en water.
Die VKLM DA-raadslede bring dit gereeld onder die aandag van die departement. Die totaal onaanvaarbare situasie bly egter voortduur.”
“Nog ’n onaanvaarbare kwessie is dié van onwettige smouse, besighede en plakkate wat oor verkeerstekens geplak word.”
In sy reaksie op die DA se versoek, het Mashabelo ontvangs van die mosie erken.
Volgens Mashabelo, sal die mosie tydens die volgende raadsvergadering ter tafel geplaas word.
Hy (Mashabelo) wys egter daarop dat in terme van seksie 54 (1) van die staande ordereëls, daar slegs een mosie op die tafel geplaas mag word en dat geen raadslid meer as drie mosies tydens ’n finansiële jaar mag opper nie.
“Dit is slegte nuus vir ’n munisipaliteit deurspek van korrupsie en wat gebukkend staan onder korrupsie, wanbetaling van diensverskaffers, uiters swak dienslewering, krag- en wateronderbrekings, swak en meestal onbegaanbare paaie, ’n onvoldoende en meestal niewerkende rioolstelsel, ’n nie-betalende belastingbetalerskorps om net ’n etlike probleme te noem,” het ’n inwoner van Delmas Streeknuus meegedeel.
Volgens die DA moet munisipale amptenare hulle werk verrig en as dit nie gedoen word nie, sal daar dienooreenkomstig teen hulle opgetree word.
“VKLM, tesame met die burgemeester moet nou begin om hul beloftes aan die Delmas-gemeenskap na te kom.
“Die gemeenskap dring aan op waarde vir hulle geld en goeie dienslewering,” het Bath afgesluit.









