Oud-Bethaller Hennie van der Spuy sterf
Hy sal onthou word vir sy sin vir humor en die groot sak lekkers wat hy altyd by hom gehad het om vir die buurt se kinders uit te deel.
Die bekende Hennie van der Spuy (70) is onlangs dood.
Hy en sy vrou, Anita, het die laaste 17 jaar op Middelburg gewoon.
Hennie het op 31 Maart ’n hartaanval in Pretoria gehad, en is op 3 April dood.
Hy het op Bethal grootgeword, was ’n kranige rugbyspeler en het veral bekendheid op die dorp verwerf met sy betrokkenheid by Bethal Gholfklub, waar hy lank die kaptein was.
Hennie het 12 wedstryde as skrumskakel vir die destydse Suidoos-Transvaal rugby gespeel.
Hennie het vir jare vir die destydse Nasionale Aartappelkooperasie gewerk en was ten tye van sy dood, die tegniese landboukundige bemarker vir ANSA.
Hy sal onthou word vir sy sin vir humor en die groot sak lekkers wat hy altyd by hom gehad het om vir die buurt se kinders uit te deel.
Hy laat sy vrou Anita, sy kinders Rudi en Adel en drie kleinkinders na.
Sy roudiens het by die KSM in Midstream plaasgevind.



