Die AfriForum-buurtwag in Mpumalanga het op Vrydag, 8 April, in samewerking met die polisie, plaaslike gemeenskapspolisiëringforums gemeenskapslede, verskeie veiligheidsmaatskappye en -instansies, ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep.
Volgens ’n persverklaring van Dinsdag, 12 April, het die patrollie omstreeks 16:00 begin en tot 8:00 die volgende oggend geduur.
Altesaam 11 buurtwagte, bestaande uit 143 patrolleerders, het deelgeneem. ’n Totaal van 3 945km is afgelê.
Die onderskeie buurtwagte het 17 voorvalle gedurende die patrollie hanteer en 16 inhegtenisnames uitgevoer.
“Ons buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies ry om misdaad, in samewerking met die polisie en ander veiligheidsinstansies, hok te slaan en veiligheid te bevorder,” het Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Hoëveld, gesê.
“Die veiligheidsituasie in ons land is besig om drasties te vererger. Dit is dus belangrik om sigbare patrollies te hou sodat ons die inwoners in ons gemeenskappe kan ondersteun en misdadigers die gebied ontsê,” het Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir die Laeveld, gesê.



