Local newsNews

Jan Bezuidenhout van Standerton markeer die pas

Jan was in die Mooirivier-regiment ingedeel en was die bestuurder, met ’n spesiale lisensie, van onder meer Saracen-vegvoertuire, Panhard, Jeeps en vragmotors.

Jan Bezuidenhout is sedert 1 Augustus 2017 doodrustig aan die stuur van sake by die militêre veterane van Standerskop.

Hy het droogweg sy leiersposisie opgesom: “Ek sal as voorsitter optree totdat ek uitgestem word.”

Hy is op 4 Januarie 1962 opgeroep vir die weermag, die eerste nege-maande-korps, en het op Tempe, Bloemfontein sy opleiding ontvang.

“Ek het destyds my instruksies per teleks gekry en die trein vanaf Potchefstroom gehaal.”

Jan was in die Mooirivier-regiment ingedeel en was die bestuurder, met ’n spesiale lisensie, van onder meer Saracen-vegvoertuire, Panhard, Jeeps en vragmotors.

Dié lisensie was egter nie op openbare paaie geldig nie.

Hy het drie-week kampe in 1963 en 1964 bygewoon en nadat hy uitgeklaar het, is hy op die burgermag se reserwelys geplaas.

Jan se kontak met oud-weermaglede is deurlopend en hy het eerstehandse kennis van die mate van ontnugtering by sommige, en die trauma wat ander beleef het.

Sy eggenote Joyce is in 2018 oorlede en hulle sou op 25 Februarie hul 55ste huweliksherdenking gevier het.

Drie seuns, Jan, Hennie en Gerrie is uit die huwelik gebore en Jan spog nou met agt kleinkinders en nege agterkleinkinders.

Oupa Jan het destyds op Vereeniging sy ambag as sweiser by Stewarts en Lloyds voltooi.

In diens van ’n konstruksiemaatskappy wat werk by Eskom gedoen het, het verskeie verhuisings oor die jare vir die Bezuidenhouts beteken.

Die maatskappy was nou betrokke by die aanbou van nuwe kragstasies, instandhouding van kragstasies en aanlegte.

Arnot, Hendrina, Vaaldriehoek, Bergville, Duvha, Camden en Tutuka in 2004 is van die plekke waar hy oral betrokke was.

Ander projekte is ook by Sasol, die destydse Yskor, Rustenburg en Phalaborwa afgehandel en selfs een in Windhoek, Namibië.

Hy het verlede jaar saam met vriende weer die Skedelkus besoek.

“Die Namib-woestyn hou ’n spesiale bekoring in,” aldus Jan.

“As dit nie vir die konstruksiemaatskappy was nie, sou ek nie al die dele van die land gesien het nie.

“Ons het oral lekker gebly, hoewel ek nooit gedink het dat ek op Standerton sou aftree nie.”

Hy wou eers ’n motorwerktuigkundige word, maar tydens die onderhoud het dit geblyk dat hy nie tussen blou en groen kon onderskei nie.

“Dit is egter nie ’n probleem by verkeersligte nie.”

Nie dat dit hom ondergekry het nie.

’n Ander loopbaan het gevolg.

Jan word druk besig gehou met die administrasie van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging se veterane.

Daarbenewens moet geldinsamelingsprojekte ook van stapel gestuur word.

Hul projekte het kleurvolle name soos Kolgans, Jagarend en Geelvink en daar is ook ’n jaarlikse kranslegging.

Met verwysing na sy gesondheid het Jan bloot laat val dat hy geseënd en bevoorreg is.

As gelowige het hy die onderhoud kort en kragtig afgesluit: “Jy moet altyd ’n voorbeeld teenoor jou medemens stel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button