Secunda-vrou geniet werk as spraakterapeut en borsvoedingskonsultant
“Daar kan verskeie redes wees hoekom mammas sukkel om te borsvoed.
Vir Elizeth Jansen van Vuuren wat vandag as spraakterapeut werk, is daar min dinge so lekker en vervullend as om te sien hoe mammas wat voorheen gesukkel het om hul babas te borsvoed, dié taak baasraak.
Buiten spraakterapie, help Jansen van Vuuren vroue wat sukkel met borsvoeding.
Sy het op Standerton grootgeword en gematrikuleer en het ná skool deeltyds as administratiewe werker by Hoërskool Standerton gewerk en haar ma in haar gastehuis gehelp.
Sy het in dié tyd deur Unisa letterkunde studeer omdat sy ’n joernalis wou word.
Na haar tweede jaar van studies was sy egter nie meer so seker of sy steeds ’n joernalis wou word nie en dit oorweeg om ’n maatskapliker werker te word omdat sy graag met kinders wou werk.
“Ek het op die internet maatskaplike werk en tale ingesleutel en een van die loopbane wat opgekom het, was spraakterapie,” het Jansen van Vuuren vertel.
Voor dié dag het sy nie geweet wat ’n spraakterapeut is nie.
Sy het besluit om aansoek te doen en as sy die streng keuring vir universiteit sou slaag, sou dit ’n teken wees dat sy spraakterapie moes studeer, maar as sy nie sou inkom nie, sou sy haar graad in tale voltooi.
Jansen van Vuuren het egter ingekom en was kort voor lank by die Universiteit van Pretoria en het haar graad in spraakterapie voltooi.
Na haar studies het sy haar gemeenskapsjaar by Evander Hospitaal gedoen en vir vyf jaar vir die Departement van Gesondheid gewerk.
Nadat sy haar man, Juan Jansen van Vuuren ontmoet het en in 2013 getroud is, het sy self gesukkel met borsvoeding toe haar seuntjie, Elijah (7) in 2014 gebore is.
“Ek het toe reeds besef dat daar ’n groot behoefte is vir mammas wat sukkel met borsvoeding en niemand om hulle te help of raad te gee nie,” het Jansen van Vuuren gesê.
Sy het in 2015 ingeskryf vir ’n nagraadse twee jaar-kursus om ’n borsvoedingskonsultant te word en in 2016 is haar dogtertjie, Naníka (5) gebore.
Sy het die kursus oor ’n langer tydperk klaargemaak, omdat dit moeilik was met twee babas en omdat sy met beide haar babas met borsvoeding gesukkel het.
Jansen van Vuuren kon dit wat sy in die kursus geleer het, in haar eie lewe toepas en het gesien hoe dit verbeter as sy haar twee kinders gelyk moes borsvoed.
Sy moes egter eers baie uitdagings in die gesig staar – van haar dogterjie wat nie bedags aan haar bors wou drink nie en net gedrink het as sy slaap tot mastitis, geblokte melkpypies en seer, gebarste tepels en tepelspasmas.
“Ek was vasberade om te borsvoed en ’n sukses daarvan te maak en dit was so ’n wonderlike manier om ’n hegte band met my twee kinders te vorm.
“Omdat ek op ’n stadium vir 15 maande hulle gelyk geborsvoed het, het dit ook ’n baie hegte en mooi band tussen hulle twee gebring.”
Jansen van Vuuren is ’n besige vrou en ondervind soms hoë spanningnsvlakke.
Sy gesê die borsvoeding het ’n baie kalmerende uitwerking op haar gehad en het haar gedwing om bietjie stil te sit en haar kinders te geniet.
Sy het beide haar kinders geborsvoed totdat hulle drie was.
Sy het in 2016 as spraakterapeut by Marietjie Skool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes begin werk en dié tyd moes sy haar melk in bottels uitmelk sodat haar kinders steeds van haar borsmelk kon drink.
Sy kon uiteindelik in 2018 haar kursus as borsvoedingskonsultant klaarmaak en sedertdien help sy mammas om te borsvoed.
“Daar kan verskeie redes wees hoekom mammas sukkel om te borsvoed.
“Sodra ek na my eerste besoek gesien het wat die rede is, kan ons daaraan begin werk.
“Dit is vir my so wonderlik en vervullend om die verandering te sien na ’n sessie.
“Om te sien as ek daar instap hoe die mamma se moed in haar skoene is omdat sy so graag wil borsvoed en sy kry dit net nie reg nie en later as ek uitstap, om dan die glimlag op haar gesig te sien en te weet sy is bemagtig en ek kon ’n positiewe verandering in haar lewe maak.
“Ek sit gewoonlik op die vloer as ek dié sessies met mammas doen, dit is ’n dienende posisie.”
Die gestremde kinders waarmee Jansen van Vuuren in die oggende werk as spraakterapeut, hou haar nederig en noop volgehoue professionele ontwikkeling.
“Dit is vir my so ’n groot seën om met hulle te werk en ’n mens leer om trots te wees op klein oorwinnings.”
Jansen van Vuuren meen die spraakterapie maak van haar ’n beter borsvoedingskonsultant en haar roeping as borsvoedingskonsultant, maak van haar ’n beter spraakterapeut.
Sy glo die ouers moet ook betrokke wees by die spraakterapie-sessies en dat die betrokkenheid van die ouers baie kere die sukses van ’n sessie en die kind se vordering bepaal.
Jansen van Vuuren is ’n besige mamma wat tuisonderrig gee vir haar twee kleuters en as sy nie tyd met haar man en kinders bestee nie, krap sy graag met haar vingers in die tuin rond.
“Om kaalvoet te loop en die reuk van grond maak my rustig,” het sy gesê.
Vir meer inligting, besoek Jansen van Vuuren se Facebook-blad by Elizeth Jansen van Vuuren Speech Therapist & Lactation Consultant Secunda.



