Local newsNews

Ilse Cronjé vertel Bethal VLU-vroue meer oor fotografie

Belangstellendes is welkom om VLU se vergadering in Mei by te woon.

Vroue van die Bethal VLU-tak het op Dinsdag, 12 April byeengekom en Ilse Cronjé, fotograaf en oud-joernalis, het haar kennis van fotografie met vroue gedeel.

Cronjé het opleiding by verskeie fotografieklubs ontvang en as troufotograaf gewerk.

Sy het gesê lig is die heel belangrikste komponent vir ’n goeie foto en die beste tyd vir ’n fotograaf om foto’s te neem is vroegoggend of laatmiddag.

“Dan is die lig baie mooi en jy kan die lig van agter, van voor of selfs van bo kry op die mense wat jy afneem of die onderwerp wat jy afneem,” verduidelik Cronjé.

“’n Fotograaf moet mooi kyk wat in die voor- en agtergrond van jou foto is en jou kamera of selfoon so stil as moontlik hou.

“Staan teen ’n boom of pilaar en stut daarteen om jou kamera stil te hou.

“As jy ’n standbeeld wil afneem en daar is te veel bome en geboue in die foto, sien ’n mens nie nie die beeld raak nie, maar as jy jouself net bietjie laer posisioneer en buk en die standbeeld vanuit ’n laer hoek afneem, kan jy die blou lug in jou foto kry en dit sal ’n baie beter foto wees.”

Cronjé se ander wenke was dat die fotograaf op dieselfde vlak as mense se oë moet wees as hulle foto’s van mense neem, die raam van ’n mens se foto moet vol wees van dit wat ’n mens afneem, daar moenie ‘dooie spasie’ om jou onderwerp of model wees nie en as ’n mens kunsfoto’s wil neem, dan neem ’n mens net ’n gedeelte van jou onderwerp af.

Sy het vroue aangemoedig om met hul selfone of kameras te speel en horisontale sowel as vertikale foto’s te neem.

“Die geheim van fotografie is, dat dit nie net ’n prentjie moet wees wat jy vasvang nie, maar dit moet ’n storie vertel.

“Neem foto’s waar mense ontspanne is – dit maak gewoonlik baie interessante foto’s.

“As jy gaan blomme kyk in Namakwaland, neem die blomme vanuit ongewone hoeke af, gaan lê op jou maag of hurk as jy blomme afneem.”

Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op Dinsdag, 17 Mei in die Bethal-Oos-gemeente se kerksaal.

Belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.

Vir meer inligting, skakel Lynette Posthumus by 072 203 6230.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button