Nadine Hugo van Secunda voorsien suurstof aan pasiënte
Nadine Hugo geniet sy haar werk as suurstof-tegnikus terdeë en glo dié beroep is ’n roeping wat nie enige persoon sal kan doen nie.
Nadine Hugo het vroeg in haar loopbaan as suurstof-tegnikus besef dat mens nie beheer het oor lewe en dood nie.
Sy werk al die afgelope ses jaar as suurstof-tegnikus. Aanvanklik het dit haar baie ontstel as sy sien het hoe pasiënte sterf.
Met dié tipe werk is dit baie belangrik om te bepaal watter pasiënte moet prioriteit geniet. “Die belangrikste pasiënte waaraan ek eerste aandag gee, is dié wie se suurstofmasjiene foutief is,” het Hugo gesê.
“Omdat ek nie weet watter reserwes van suurstof hulle het nie, sorg ek dat ek so gou as moontlik by hulle uitkom en hulle help om hul masjiene weer aan die gang te kry.”
Haar tweede prioriteit is om pasiënte se masjiene wat min stuurstof oorhet, te hervul.
“Meeste van die tyd laat weet hulle my ’n rukkie voordat hul suurstofbottels leeg is, so hulle kan nog ’n dag of wat gaan met die suurstof wat hulle oorhet.”
Hugo werk ook nou saam met die hospitaal personeel omdat sy gereeld vir pasiënte daar suurstof-masjiene moet neem en hulle ook moet wys hoe die masjiene werk.
Sy het op Secunda grootgeword en na skool in Engeland gaan werk as skoonmaker vir vier maande.
“Dit was nie vir my nie en ek het dit nie geniet nie en toe besluit om na Suid-Afrika terug te keer,” het Hugo gesê.
Daarna het sy as verkoopsverteenwoordiger by ’n onderneming, wat lekkers en ander produkte verkoop, gewerk vir twee jaar voordat sy dié werk verruil het en as agent op verskeie aanlegte vir verskillende ondernemings op Secunda, Ellisras en ander dorpe gewerk het vir etlike jare.
Hugo het in 2016 gehoor ’n onderneming wat suurstof en suurstofmasjiene verskaf, soek ’n agent en het aansoek gedoen vir die werk.
Sy het al die nodige kursusse geloop en baie geleer oor die funksies van die longe en die hart.
Vandag geniet sy haar werk terdeë en glo dié beroep is ’n roeping wat nie enige persoon sal kan doen nie.
“Dit was vir my moeilik om [my emosies te verwerk] terwyl ek baie pasiënte sien doodgaan het gedurende die Covid-19 pandemie,” het Hugo gesê.
Sy vertel dat sy haar lewe verander het sowat vyf jaar terug toe sy tot bekering gekom het by ’n kerk in Witbank.
Hugo het vir lank ’n stryd teen bors tuberkulose geveg. Bors tuberkulose is ’n seldsame vorm van ekstra-pulmonale tuberkulose wat veroorsaak dat etter by die borste uitkom.
Sy het jaarliks in die winter met dié toestand gesukkel, maar uiteindelik in die begin van die Covid-19 pandemie het sy begin beter voel na ‘n operasie in die stoel in die dokter spreekkamer.
Sy glo die Here het haar genees kort nadat die pandemie uitgebreek het sodat sy ander mense kan help as suurstof-tegnikus.
In haar vrye tyd geniet Hugo dit om op haar vierwielmotorfiets in die veld te ry. Sy kuier ook graag by pasiënte in die hospitaal.



