Local newsNews

Standerton se Yolandi Kasselman glo die lewe is kosbaar

Frans het haar om die hand in ’n restaurant gevra nadat sy, glo dit of nie, sy blou Mercedes-Benz op die plaaspad gerol het.

Yolandi Kasselman beskou haarself as ’n doodgewone, plattelandse vrou wat net haarself is en wil wees.

Haar loopbaan by die veiligheidsmaatskappy het ’n aanvang geneem toe sy vir die drie-maande-oue Lise-Mari begin oppas het, met pa en ma wat hulp benodig het.

Wyle skoonma Hettie, het haar mettertyd touwys begin maak en sy is nou vyf jaar in die administratiewe afdeling werksaam.

Yolandi is deur en deur ’n Standertonner en het by Laerskool Jeugkrag en Laerskool Standerton tot by Hoërskool Standerton gevorder vir matriek.

“Ek wou destyds ’n kleuterskoolonderwyser word,” het sy vertel.

Wyle pa Tiny, wat by New Denmark Colliery gewerk het en ma Sharon se een seun Hull, het sy vlerke na Engeland gesprei.

’n Skype-begrafnis is in 2021 vir haar pa gehou.

Yolandi se huweliksbevestiging is deur ds. Giel Roux in 2012 waargeneem en haar vader het die bruid in sy Corolla na die huweliksbevestiging met Frans Kasselman gery en nog ’n keer om die blok gery, maar Yolandi was nie laat nie.

Dit was skoutyd, September en het gereën.

“Ek het myself herhaaldelik gemaan om nie te val nie.”

Die ontmoeting met Frans is ingelui toe sy plaasimplemente van ’n onderneming op die dorp na hom moes wegstuur.

“Ons sou vir ’n melkskommel gaan,” aldus Yolandi.

Frans het haar om haar hand in ’n restaurant gevra nadat sy, glo dit of nie, sy blou Mercedes-Benz op die plaaspad gerol het.

“Tot vandag toe, kan ek nie kosmos na behore waardeer nie.

“Toe ek tydens die ongeluk kort-kort my oë oopgemaak het, het ek net kosmosblomme gesien.”

Yolandi het op 38 jaar stiefouma geword en neem haar verantwoordelikhede as troeteldierma nie gering op nie.

Haar vierpotige kinders, Tienkie, Cruiser, Chloë, Roxie en Nikita word gereeld Clarence toe gevat vir uitstappies.

Sy het Covid-19 in Julie verlede jaar oorleef en tuisgebly om aan te sterk, met slegs een long wat sedert geboorte 100% werk.

“Ek is vir ’n maand en ’n half afgeboek.”

Yolandi is aktief by die sopkombuis op die dorp op Donderdae betrokke en is van mening dat ’n mens aan die gemeenskap moet teruggee.

Sy hou van die plaaslewe en gehalte tyd, saam met geliefdes, is vir dié familievaste vrou ononderhandelbaar.

Met hulle 10de huweliksherdenking, is die voertuig, Buksie, deel van die gesin.

Haar uitgangspunt oor die lewe is kortliks uiteengesit.

“Jy moet verantwoordelikheid vir jou lewe neem.

“As jy jou bagasie voor die Here se voete neergesit het, moet jy dit daar los.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button