MunicipalNewsStreeknuus

Die toestand van Delmas en omliggende areas se paaie is skokkend

“As gevolg van die gebrek aan instandhouding van al ons paaie, het sommige van die slaggate egter nou onherstelbaar geword. Die koste vir die herstel daarvan raak astronomies en sommige kan nie meer deur die gemeenskap in stand gehou word nie.”

Slaggate is seker tans die mees algemene klagte op die inwoners van die Delmas-omgewing se sosiale media-groepe.

Motoriste wat duisende rande moet opdok vir bande, beserings en ernstige ongelukke weens slaggate is van die gereelde en mees algemene besprekingspunte.

Die agteruitgang van paaie het geleidelik begin, inwoners het op groepe gekla en klagtes ingedien.

Nou in 2022 is sommige paaie, munisipaal sowel as provinsiaal, nie meer begaanbaar vir motoriste nie.

Hier was eens ’n teerpad. Die Laan op Eloff waar verkeie motoriste reeds bande en wielvellings verloor het. (Foto: Verskaf)

Saam met die seisoen se uitermate hoë reënval, het paaie heeltemal verval en is daar meer slaggate as pad oor.

Vroue met klein kindertjies wat in die donker ure in die moeilikheid raak weens skade aan bande en wielvellings is van die besprekingspunte. So ook persone op pad werk toe wat deur slote, daar waar daar vantevore paaie was, moet ry, skade aan hul voertuie opdoen en van ander afhanklik is om hulle uit die moeilikheid te help.

’n Inwoner van Eloff, Johan Bekker het Streeknuus gekontak.

Hierdie voertuig het ’n uiters gevaarlike slaggat op die R42-pad by Stompiesfontein getref. (Foto: Johan Bekker)

“Ek ry die R42-pad na Nigel nou al vir die afgelope 30 jaar werk toe en terug.

“Die agteruitgang van dié pad is skrikwekkend. Dit is lankal nie meer net gevaarlik vir voertuie nie, dit is ook lewensgevaarlik,” het Bekker gesê.

“Op die R42-pad by Stompiesfontein moet ’n mens nou stop en wag vir aankomende verkeer om verby te gaan voordat jy kan verder ry.

“Dit is ’n provinsiale pad waarop die snelheidsgrens 100km per uur is. Wat gebeur wanneer iemand nie die pad ken nie?”

Hier is maar een van die slaggate in Krugerstraat op Eloff.

Bekker was op 29 April net voor 07:00 weer op pad werk toe, toe hy op ’n motor afgekom het wat in die veld by die berugte Stompiesfontein-slaggate gelê het.

“Daar was niemand in die voertuig nie, die lugsak het oopgegaan en die hele regter voorwiel was uitgeruk. Ek weet nie of die insittendes seergekry het nie, maar dit was net geluk dat die voertuig nie gerol het nie. Seker maar weer iemand wat nie die pad geken het nie,” het Bekker laat weet.

Die R50-pad is na meer as twee jaar steeds in aanbou.

Skade aan ’n voertuig opgedoen in Die Laan op Eloff. (Foto: Verskaf)

Dit het motoriste en swaarvoertuie genoop om onder andere Die Laan deur Eloff as alternatiewe roete te gebruik.

“Die Laan is in ’n baie slegte toestand,” het Diane Bath, DA-raadslikd by Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM), gesê.

“Ek het dit reeds ’n paar keer met die Provinsiale Departement van Paaie opgeneem.

“Die staande water is ook met die munisipaliteit opgeneem. Niks gebeur egter nie. Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalende inwoners so moet sukkel,” het Bath gesê.

Op Delmas, Eloff, Sundra en Rietkol help belastingbetalers, boere, die vrywilligers van Delmas Herleef en AfriForum al vir ’n geruime tyd om slaggate te vul.

2de Laan op Rietkol word hier deur vrywilligers vanuit die gemeenskap herstel. (Foto: Verskaf)

“Weens gebrek aan instandhouding van al ons paaie, het sommige van die slaggate egter nou onherstelbaar geword. Die koste vir die herstel daarvan raak astronomies en sommige kan nie meer deur die gemeenskap in stand gehou word nie. Die meeste van die strate en paaie moet heeltemal oorgebou word, ” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum op Delmas gesê.

“Ons gebied is ook kompleks en baie groot. Dit het ’n byna onbegonne taak geword. Soveel inwoners vra waarom ons dit steeds doen, ons betaal dan belasting?

“My antwoord is eenvoudig: As jy moet wag vir die munisipaliteit om die slaggat voor jou huis of in die pad waarmee jy werk toe ry, te herstel, gaan dit nie gebeur nie. Doen dit self en maak dit vir jou en jou gesin veiliger om te gebruik.

“Die munisipaliteite behoort die agterstand vir die herstel van slaggate in te haal en dit moet prioriteit raak om slaggate te herstel, maar die meeste inwoners van VKLM weet dat dit nie gaan gebeur nie,” het Botha gesê.

Tydens Streeknuus se besoek aan Krugerstaat, voor die Eloff Silo’s was daar bedrywigheid.

Hier kan die omvang van die skade weens slaggate duidelik gesien word. Die ongeluk het op die R555 net buite Delmas plaasgevind. (Foto: Facebook)

Op navraag het ’n werknemer van ’n bekende boerdery vanuit die omgewing bevestig dat hulle besig was om die pad te herstel.

’n Ontstoke inwoner van Rietkol het Streeknuus meegedeel dat hy moes sukkel om toestemming vanaf die raad te kry om slaggate te hertel.

“Dit moet glo binne die wet gedoen word. Kom maak dit dan reg, dan hoef ek dit nie te doen nie.

“Dieselfde raadslede het dan die arrogansie om selfoon-selfies tydens die regmaak-proses te kom neem en hulself die krediet vir die herstelwerk toe te eien. Dit terwyl daar nie aan ’n graaf of ’n pik geraak word nie,” het dié inwoner gesê.

“Die masjinerie wat ek moes gebruik se diesel jaag my derduisende rande uit die sak, maar ek doen dit uit vrye wil in my eie tyd vir my vrou en kinders, ons bejaarde bure, nie vir politieke aansien of krediet nie.”

Streeknuus het gepoog om antwoorde van die provinsiale departement van paaie en vervoer in Mpumalanga aangaande die R42 te kry, maar teen druktyd is daar nog geen terugvoer ontvang nie.

Wat hier voorkom om ’n plaasdam te wees, was voorheen ’n teerpad in Krugerstraat op Eloff.

Related Articles

Back to top button