Senior burgers van Herfsland Aftreeoord op Delmas kan weer ’n warm stort geniet
Dit is alombekend in Delmas-geledere dat van die aftreeoorde se inwoners vir etlike maande sonder ’n warmwatertoestel moet sien kom klaar.
Sakkie en Issie Botha, inwoners van Herfsland Aftreeoord, kan weer ’n warm stort geniet. Dit danksy die hulp van AfriForum in Delmas.
Dit is alombekend in Delmas-geledere dat sommige van die aftreeoorde se inwoners vir etlike maande sonder ’n geiser moet sien kom klaar.
Beide Herfsland- en Malita Afrteeoorde behoort aan die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM).
Wanneer geisers onklaar raak, moet senior burgers skynbaar noodgedwonge met koue water klaarkom.
Die rede daarvoor sou bloot wees dat VKLM nie oor die geld beskik om hierdie toestelle aan te koop of te vervang nie.
Streeknuus het ook by verskeie vorige geleenthede berig oor bejaardes in nood, sommige waarvan solank as ses maande in koue water moes stort of bad.
Volgens Issie het hulle dadelik vir VKLM laat weet toe hulle geiser die gees gegee het.

“Wonder bo wonder het die munisipaliteit met ’n geiser opgedaag. Dit was nogal vinnig opgesit. Toe kom die volgende struikelblok egter.
“Daar was glo nie pype by VKLM in voorraad nie en ook nie geld om aan te koop nie.”
“Weer eens moes ons maar vir Carel Botha van AfriForum skakel vir hulp, wie dan nou anders?” het Issie Streeknuus meegedeel.
Carel het ’n kwotasie van ’n plaaslike loodgieter bekom en goedkeuring vanaf AfriForum verkry.
“So op Goeie Vrydag het Desmond Biermann en sy seun, Grewar, hier opgedaag en sommer vinnig-vinnig was die stelsel opgekoppel en het ons weer warm water gehad.”
“Die instandhouding en herstelwerk by Malita en Herfsland is VKLM se verantwoordelikheid. Dit is baie ontstellend dat die munisipaliteit nie na ons bejaardes omsien nie en hulle net aan hul eie lot oorlaat.
“Ons kan eenvoudig nie toekyk hoe ons bejaardes swaar kry nie. Dit is onaanvaarbaar dat daar nie geld is om iets so eenvoudig soos pype vir ’n geiser te verskaf nie,” het Carel, voorsitter van AfriForum in Delmas, gesê.
Sakkie en Issie het vir AfriForum Delmas vir hul hulp bedank.
“Ons weet dat julle altyd daar is en veral moeite doen om ons senior burgers in tye van nood by te staan en uit te help,” het die Botha’s laat hoor.
Issie het ook vir VKLM vir die voorsiening van die geiser bedank.



