Flip Jordaan is nie skraps as dit die gemeenskap raak nie
“Ek gaan nie sit en toekyk hoe een van my gemeenskap doodgery word nie.”
Flip Jordaan van Standerton het besluit dat as die berg nie na Mohammed wil kom nie, moet Mohammed na die berg toe gaan.
’n Voorbeeld was sy inisiatief om slaggate vanaf die Volksrust-pad tot by die Secunda-pad te herstel en daarna die hoofstraat, Beyers Naudéstraat ook by te dam.
Aanhoudende reën het egter ’n rol gespeel, hoewel dit heel begaanbaar was vir drie weke.
“Ek skat dat in Nelson Mandela-rylaan ten minste 1 000 skaggate opgevul is.”
’n Bejaarde vrou in ’n klein, blou sedan een oggend om 7:20 op die Meyerville-brug wat voortkruie teen 20km, het dié gedagte laat posvat.
Veral toe hy die steenkoolvragmotor agter haar sien ry en die verkeer wat begin opdam.
“Iets sal drasties gedoen moet word,” het hy by homself gedink.
“Dis net ’n kwessie van tyd voor ’n ongeluk gebeur.
“Ek gaan nie sit en toekyk hoe een van my gemeenskap doodgery word nie.”
Flip het onomwonde verklaar dat hy nie ’n politikus is nie, hoewel hy ferm en beslis sy standpunt op sosiale media bekendgemaak het.
“Ek gaan kyk wat ek self in ’n week kan regkry.”
Hy het 27 jaar gelede vanuit die Vaaldriehoek op Standerton aangekom.
Flip en sy broer was by Tutuka Kragstasie werksaam, en dit was juis sy broer wat goed bevriend was met sy toekomstige skoonfamilie.
“Dit het meer oor die die halsbandjie as die hondjie gegaan,” het Flip grappenderwys vertel.
Annelize, sy eggenoot, se pa het met bulterriërs geteel en sy broer het een gekoop.
Die Jordaan-broers het bevriend met die Oliviers geraak en die koeël was deur die kerk.
Wyle ds. Louis Spies het hulle in 1997 die huwelik bevestig en die egpaar is reeds 25 jaar getroud.
Die egpaar het twee seuns, Wickus en Nico.
Wikus het die wyk na die VSA geneem waar hy met varke in Nebraska boer, terwyl Nico skouer aan die wiel by pa se onderneming gesit het.
Nico en sy pêlle het juis gehelp met die slaggate opvul, om nie te praat van ondernemings op die dorp wat gruisskenkings gedoen het.
Gr. 11 en gr. 12 leerders van Hoërskool Standerton het vrywillig ingespring om te help.
Hulle het hoeka nou raad gekry om ou olie te meng met gruis, seël blykbaar die gat beter en dit hou langer.
Flip het ’n sterk plaasagtergrond.
Sy pa het destyds ’n plaas naby Bothaville gekoop en Flip was van die voormalige sub A tot standerd 5 in ’n plaasskooltjie, in ’n klaskamer met sewe seuns en sewe dogters.
“Almal se pa’s het plase besit, niemand het getrek nie en ons was soos een groot familie.”
Die skooltjie het 56 leerders gehad.
Toe verdere onderrig nader, is Flip na die Tegniese Skool op Klerksdorp.
Flip se gesondheid het verlede September ’n knou gekry toe hy vir meer as ’n maand in die intensiewe eenheid van Midstream Mediclinic naby Centurion opgeneem is.
Die koronavirus het hom platgetrek en daarna het hy tuis aangesterk met ’n suurstofmasjien byderhand.
“Standerton se mense het my deurgedra.”
As dit by provinsiale rugby kom is Flip ’n vurige Cheetah-ondersteuner.
“My bloed is oranje.”
Terug na wat hom na aan die hart lê.
Dié sakeman hoop hy kon ’n rolmaalbeweging aan die gang sit om die dorp se paaie te herstel.
“My gewete sal my ry as iets nie gedoen word nie,” het hy mee afgesluit.



