Local newsNews

NG Kerk loods Ligdraer-projek op Secunda

Borg ’n stapper en gee terug aan minderbevoorregtes.

Die twee broers, Hendrik (70) en Johan Keyser (63) stap daagliks 42km om voor te berei vir die Secunda Ligdraer-projek wat op Maandag, 16 Mei afskop.

Hendrik het al verskeie staptogte, onder andere een vanaf Secunda na Kaapstad, aangedurf.

Die NG Kerk Goedehoop-gemeente het dié projek geloods om mense in die gemeenskap wat nood ervaar, te ondersteun.

“Ons besef met beurtkrag is daar ou mense en kinders wie nie kragopwekkers het nie en dus koud en alleen in die donker moet sit. Ons wil dit graag vir hulle bietjie meer draaglik maak,” het dr. Anton Knoetze, leraar van die NG Kerk Goedehoop-gemeente en die Secunda Reformed Church, gesê.

Die geld wat met dié projek ingesamel gaan word, gaan aan welsynsorganisasies in die omgewing, wat Janelle Huis, Davieshof, House of Mercy en Addulam Sendingstasie insluit, geskenk word.

Die doel van die Keyser-broers se lang staptog is dat die gemeenskap hulle per dag per km wat hulle stap, kan borg of die stappers vir die hele week kan borg.

Dié twee broers gaan vanaf 16 tot 20 Mei daagliks 42km stap en hul vordering sal daagliks op sosiale media geplaas word.

Ondernemings in die omgewing gaan ook genader word om donasies te gee en by dié projek betrokke te raak.
“Dit is ’n tweerigting-aksie, die ondernemings ondersteun dié projek en sodoende kan ons vir die gemeenskap sê ondernemings is gemeenskapsvriendelik,” het dr. Knoetze gesê.
Die Secunda Ligdraer-projek eindig op Saterdag, 21 Mei wanneer die gemeenskap saam kan stap.

“Mense kan saam met ons die dag kom geniet, 5km stap en nie-bederfbare items saambring om te skenk aan liefdadigheid.

“Dit is tyd dat ons almal bietjie uit ons gemaksone kom, uitkom en ander mense raaksien.”

Van die items wat die gemeenskap op 21 Mei kan skenk, sluit in tandeborsels, tandepaste, sanitêre doekies, doeke vir babas, waspoeier, haarsjampoo, handeroom, handdoeke, Handy Andy, toiletpapier, handseep, rys, blikkieskos, mieliemeel, suiker, olie, pasta, tee, koffie, langlewe melk, sop, droë vrugte, beskuit en flitse of ligte wat met batterye werk.
Vir meer inligting, of om dié projek te ondersteun of betrokke te raak, skakel die kerkkantoor by 017 634 6351 of dr. Knoetze by 082 806 4848.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button