ATKV op Secunda benodig ondersteuning vir nuutste projekte
Kosmosrand-tak wil behoeftige kinders dieretuin toe neem.
Die ATKV Kosmosrand-tak op Secunda se nuutste projek is om behoeftige kinders vir ’n dag in die winterskoolvakansie dieretuin toe te neem.
Tracey van Wyk, voorsitter van dié tak, het gesê sy dink dit sal baie vir dié kinders beteken om, moontlik vir die eerste keer in hul lewens, wilde diere te kan sien.
Die ATKV het reeds vervoer gereël en die toegangsgeld ingesamel, maar hulle benodig nog borge vir iets te ete en drinke vir die kinders vir die dag.
Een van dié ATKV-tak se ander projekte is om vir elke kind wat in ’n plek van veilige bewaring in die omgewing is, ’n unieke trooskombersie met hul naam op geborduur, te gee.
Belangstellendes wat dié twee projekte wil ondersteun en geld, koeldrank, skyfies of lekkergoed vir die dieretuin-uitstappie of komberse wil skenk, kan Van Wyk skakel by 074 103 6381 of Laurika Steenkamp by 083 566 4790.




