CrimeNewsStreeknuus

Skrikwekkende toename in bloulig-kapings op N12, Delmas-omgewing

Dié misdade het glo ook oor die afgelope tyd baie meer gewelddadig geword en verdagtes skroom nie om te skiet nie.

Die Delmas Polisie het motoriste gewaarsku om uiters bedag op die N12-snelweg te wees.

Voertuie toegerus met blouligte en sirenes en kapers, meestal geklee in vol polisie-uniform, maak die N12, veral in die Delmas-omgewing, hel vir motoriste.

Die toename in kapings is nie al wat kommerwekkend is nie.

Die gewelddadigheid wat by die kapings betrokke is, is vreesaanjaend.

“Motoriste word ook nie meer na banke geneem om geld uit hul rekenings te onttrek nie.

“Die slagoffers se selfone word geneem, hulle word geforseer om geheime kodes te verskaf en op dié manier word hulle bankrekenings besteel,” het kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder van die Delmas Polisie gesê.

Drie kapings van Toyota Hilux bakkies is op Vrydag, 22 April, aangemeld.

Die modus operandi stem ooreen; voertuie word deur ’n bloulig-voertuig gestop, slagoffers word met ’n vuurwapen gedreig, hulle hande vasgebind en word dan op hul motors se agterste sitplekke geforseer.

Hulle word van hul waardevolle besittings beroof, gedwing om bankkodes te voorsien en in die mielielande afgelaai.

Onder dié slagoffers was ook ’n ma en haar dogter.

Motoriste se natuurlike instink om vir die polisie te stop, word skynbaar deur hierdie bloulig-kapers uitgebuit.

Volgens die polsie blyk die N12 tussen Etwatwa, Delmas en eMalahleni (Witbank), die bloulig-kapers se hoof visier te wees.

Daar vind egter ook steeds kapings op die R50 en R42 plaas,” het Hartley gesê.

“Die polisie werk hard daaraan om die nuutste verdagtes vas te trek.

“In die meeste gevalle van kapings wat die afgelope tyd aangemeld is, is ’n wit BMW, skynbaar ’n drie reeks met blou ligte op die paneelbord, betrokke,” het Hartley bygevoeg.

Die verdagtes is glo meestal in vol polisie-uniform geklee, maar in sommige gevalle het slagoffers in hul verklarings gesê dat die aanvallers in gewone klere met slegs polisiemaskers geklee was.

Hartley het verder genoem dat motoriste ook veral tussen die R50-Bapsfontein- en R42-Bronkhortspruitafritte geteiken word.

In dié gevalle word klippe op die pad geplaas. Niksvermoedende motoriste se voertuie word beskadig en wanneer hul stop om na die skade te kyk, word hulle beroof.

“Indien enigsins moontlik, ry tot by die naaste veilige bestemming.”

Motoriste wat stilhou vir watter rede ook al en weer eens tussen die R42- en R50-afritte, word ook dikwels deur gewapende rowers geteiken en van hul besittings beroof.

“In hierdie geval wil ons motoriste maan om onder géén omstandighede langs die pad te stop nie.”

Volgens Hartley, is daar geen polisievoertuie in en om Delmas wat met blouligte op die paneelbord toegerus is nie.

“Dit behoort elke motoris se eerste waarskuwing dat iets nie pluis is nie, te wees.

“As jy as motoris nie 100 % kan bevestig dat dit wel ’n polisievoertuig is nie, sit jou waarskuwingsligte aan, verminder spoed en ry tot by die naaste veilige, verligte plek of na die naaste polisiestasie,” is Hartley se raad aan motoriste.

Bloulig-kapings het glo ook oor die afgelope tyd baie meer gewelddadig geword en verdagtes skroom nie om te skiet nie.

Daar is ook gevalle waar vroue verkrag is.

“Moet onder geen omstandighede die kapers teen staan nie, hulle is meestal gewapen en gewelddadig. Jou lewe is belangriker as jou besittings.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button