Secunda VLU-vroue leer hoe om koffiestaanders te maak
Belangstellendes is welkom om volgende vergadering by te woon.
Vroue van die Secunda VLU-tak het op Woensdag, 4 Mei geleer hoe om koffiebekerstaanders (coasters) uit sintetiese gom (resin) te maak.
Tammy Wieczorkiewicz van B Beautiful Creations het vir die vroue gewys hoe om die kleure van die sintetiese gom te meng en wenke gegee.
“Die vermenging van die gom is baie belangrik, ’n mens se mates moet 100% reg wees,” het Wieczorkiewicz gesê.
“Die perfekte temperature om dit te meng is 20 grade Celcius en as dit reën kan ’n mens nie met resin werk nie.”
Sy het die vroue aangeraai om altyd handskoene en maskers aan te trek wanneer hulle met resin werk.
“Dit is vir my terapeuties om te kyk hoe die kleure meng en om te sien hoe die eindproduk lyk, want resin doen hul eie ding.
“Gebruik kleure wat mekaar komplimenteer.”
Wieczorkiewicz beplan om binnekort klasse aan te bied sodra daar genoeg vroue is wat belangstel.
Lettie Visser het 85% behaal vir haar kruisiesteek-tafeldoek wat sy vir die Secunda VLU-tak se maandelikse kompetisie ingeskryf het.
Dié tak vergader weer op Woensdag, 1 Junie om 09:30 in Die Ark-saal by die NG Kerk Goedehoop/Secunda-Oos-gemeente.
Belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.
Vir meer inligting, skakel Liezel Myburgh by 083 645 8620.




