Local newsNews

Kaalspruit-pad buite Standerton hou enorme risiko in

Die risiko dat die leerders in die dongas kan inval, kan nie geïgnoreer word nie.

Die vreesaanjaende Kaalspruit-pad voorspel niks goeds vir die toekoms nie.

Die boeregemeenskap se frustrasie en onrus is onder die aandag van die koerant gebring.

Die Standerton Advertiser het op Vrydag 6 Mei die roete na Kaalspruit, in die geselskap van ’n plaaslike boer, Fanie van der Merwe, aangepak.

Benewens die vroegoggendmis verby die Junxion-sentrum in Beyers Naudéstraat tot in Baumannstraat, moes daar ook rekening met die getal steenkoolvragmotors gehou word.

Werkers van die Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer in Mpumalanga het die pype langs die pad gelos.

Op die plaaspad is pype, wat gebruik sou word om die ineengestorte stormwaterstelsel te herstel, net so langs die pad gelos.

Volgens inligting, het ’n span provinsiale werkers opgedaag en die pype afgelaai.

Die pad is plek-plek so nou, dat ’n skoolbusbestuurder wat leerders na en vanaf Morgenzon vervoer, reeds tou opgegooi het.

Hy het na bewering al by die boere in die omgewing gepleit om die saak te beredder.

Die kennisgewing dat die pad gesluit is, lê op die grond en volgens dié boer, het motors se veerstelsels al op die grondpad gelê.

“Dit is lewensgevaarlik,” het Van der Mewe gesê.

“Die kinders moet nou sowat 12km na hul huise loop.”

Dié kennisgewingbordjie lêop die grondpad.

Die risiko dat die leerders in die dongas kan inval, kan nie geïgnoreer word nie.

Hy het reeds meer as R100 000 in Februarie bestee om die pad op te knap, maar die onlangse reën het sake aansienlik bemoeilik.

Dit het hom ’n week en ’n half geneem om met ’n groot selfaangedrewe skropper die pad begaanbaar te maak.

Dieselkoste was uiteraard hemelhoog.

Strooptyd is om die draai waar vragmotors die pad ook moet gebruik om boere se oeste na die silo’s te vervoer.

In gevalle waar ’n vragmotor staan, staan die boer pa vir ’n boete van tuseen R7 000 tot R9 000,” het dié boer gesê.

Op een plek word ’n slaggat aangedui waarin enigiemand kan vasval.

’n Slaggat op die Kaalspruit-pad beloof niks goed vir ’n voertuig nie.

Volgens Van der Merwe, is die paaiedepartement se verskoning dat hul nie diesel vir die padskraper het nie.

Voorts sal ’n tweedehandse padskraper hom tussen R2-miljoen en R3-miljoen uit die sak jaag.

“Iets sal gedoen moet word,” het Van der Mewe mee afgesluit.

Die Standerton Advertiser het op Dinsdag 10 Mei tevergeefs met die padinspekteur, Linda Shongwe, in verbinding probeer tree.

Die donga langs die pad waarin ’n leerder of voertuig kan inval.

’n WhatsApp-boodskap is daarna aan die kommunikasiedepartement van die Lekwa Munisipaliteit gestuur, waarin die erns van die saak duidelik uiteengesit is.

Thobeka Mtshiselwa het dieselfde dag bevestig dat die pad onder jurisdiksie van die provinsie is en nog kontaknommers probeer kry.

Ook is ’n boodskap aan die provinsiale kommunikasiebeampte van die Departement van Onderwys, Jasper Zwane, gestuur waarin kommentaar gevra is.

Zwane het ook gesê dat die saak onder die Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer val en dat sy departement, in die tussentyd, ’n volledige verslag van die distrikkantoor sal aanvra.

’n Epos is vervolgens op Donderdag 12 Mei om 10:48 na die department in Mbombela (Nelspruit) gestuur waarin kommentaar gevra is.

Geen terugvoer is teen druktyd van die provinsie ontvang nie.

Beeste wei gevaarlik naby die donga.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button