
AfriForum se Teks-buurtwag, wat Trichardt, Evander, Kinross en Secunda insluit, het al verskeie suksesse behaal sedert hulle in April ’n hommeltuig aangeskaf het.
Een van dié suksesstories sluit ’n inhegtenisname in.
AfriForum het twee van hul lede gestuur om as vlieëniers van die hommeltuig opgelei te word en op Sondag, 1 Mei het dié vlieëniers verdagtes op Secunda opgemerk terwyl hulle toetsvlugte gedoen het.
Hulle het Secunda Polisie geskakel en een persoon, wat vermoedelik by kabeldiefstal betrokke was, is in hegtenis geneem.
Volgens Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld, is koperkabels in die omgewing waar die verdagte weggekruip het, gevind en die polisie het dit saamgeneem om as bewysstukke te gebruik.
Nog een van AfriForum Teks-buurtwag se suksesstrories sedert hulle die hommeltuig aangeskaf het, is toe hulle vier sakke vol koperkabels op Vrydag, 29 April naby die begrafplaas op Secunda ontdek het.
Dit is ook as bewysstukke by Secunda Polisie ingehandig.
Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, het gesê hulle is dankbaar om dié vorm van tegnologie tot hul beskikking te hê sodat hulle die gemeenskap kan help.




