CrimeNewsStreeknuus

Delmas Polisie en veiligheidsmaatskappy fnuik bank-inbraak

’n Derde alarm het glo saam met die boodskap van voetstappe op de dak sowel as vreemde geluide vanaf die Capitec-area gekom.

Die provinsiale kommissaris van polisie, luit.-gen. Semakaleng Daphney Manamela het haar dank teenoor die polisie van Delmas uitgespreek vir hul positiewe bydrae tot die bekamping van misdaad.

Dit volg nadat die polisie op Donderdag, 19 Mei daarin geslaag het om rowers uit die perseel van Capitec Bank in die Willowbrooke Square Winkelsentrum te hou.

Die polisie is glo deur die plaaslike Maksimum Sekuriteit gekontak nadat alarm vanaf Capitec Bank ontvang is.

Volgens Maksimum Sekuriteit op Delmas kon hulle egter nie toegang tot Willowbrooke verkry nie. Die veiligheidsmaatskappy, verantwoordelik vir die sekuriteit binne die perseel, het hulle keer op keer toegang geweier.

Maksimum ontvang glo nasionale alarm as daar alarm by banke en besighede sou afgaan.

Maksimum het daarom op verskeie geleenthede die plaaslike polisie van die alarm verwittig.

Die polisie het glo wel die terrein besoek, maar kon nie enige iets vind nie. Delmas Polisielede het die situasie gemonitor terwyl hulle met hul ander take voortgegaan het.

’n Derde alarm het glo saam met die boodskap van voetstappe op de dak sowel as vreemde geluide vanaf die Capitec-gebied gekom.

Die polisie het hierna na die toneel teruggekeer. By nadere ondersoek is daar bevind dat daar wel ’n poging was om by Capitec Bank in te breek.

Die polisie se teenwoordigheid het skynbaar die rowers afgeskrik wat hulle verhoed het om met hulle rooftog voort te gaan.

By nadere ondersoek is daar onder andere ’n leer, slypmasjiene, ’n hamer, koevoet en ander gereedskap op die dak bokant Capitec gevind.

Dit het daarop gedui dat daar wel ’n poging aangewend was om die bank van kontant te beroof.

Die polisie se forensiese span het boonop kommersiële springstof gevind wat ’n duidelike aanduiding was dat die rowers beplan het om toegang tot die outomatiese tellermasjiene (OTM’s) van die bank te verkry.

Volgens kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie, was daar ook reeds skade aan die OTM’s, maar geen kontant was nog weg nie.

’n Saak van poging tot besigheidsroof word deur die polisie ondersoek. Teen druktyd was daar nog geen inhegtenisname gemaak nie. Die polisie vra dat enige iemand met inligting omtrent die verdagtes na vore moet kom. Die Stop Misdaad nommer by 08600 1011 kan geskakel word of alternatiewelik kan inligting via die MySAPSApp gestuur word. Die polisie het bevestig dat alle inligting vertroulik hanteer sal word en persone kan ook anoniem bly.

Manamela het voortgegaan om die Delmas Polisie en plaaslike veiligheid vir hul flink optrede te bedank.

“Ons waardeer die ywer en entoesiasme waarmee lede van die veiligheidsgroepe misdaad aanpak.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button