Manuel Escorcio tree by ouetehuis op Standerton op
Escorcio het ’n sterk geloofsboodskap, wat Hemelvaartdag weerspieël het, by die sing van liedere oorgedra.
Manuel Escorcio het op Donderdag 26 Mei die seniorburgers by Kosmos Aftree-oord vermaak.
Die sitkamer was reeds teen 14:45 volgepak, met personeel van Van Wyk Eiendomme wat die bejaardes met verversings bedien het.
Linda Van Aswegen, een van die direkteure by die ouetehuis, het dié geleentheid gereël en Stephen Nortjé het die klank behartig.
Nortjé het om dubbeld seker te maak, een liedjie gesing wat applous verdien het.
Ds. Etienne Rossouw van die Replika Kerk was ook teenwoordig.
Sanpat Coetzee, bestuurder, het die verwelkoming en bedankings behartig.
Escorcio het ’n sterk geloofsboodskap, wat Hemelvaartdag weerspieël het, by die sing van liedere oorgedra.
Hy het geredelik beken dat hy in ’n stryd met kanker gewikkel is.
Escorcio het kortliks uitgebrei oor sy loopbaan wat 23 besoeke aan die VSA ingesluit het.
Nashville, Tennessee tel onder sy optredes, sowel as drie reise na Israel.
“Ek het Israel nie om kommersiële redes besoek nie, maar wel vir die geestelike ervaring,” het hy gesê.
Hy het in 1990 tot bekering gekom en het ook ’n Afrikaanse vertaling van One day at a time gesing.
Die gehoor het dié voormalige operasanger se boodskap en optrede goed ontvang.
’n Volgende optrede was by die Teatro van die Replika Kerk dieselfde aand beplan.






