Local newsNews

Secunda VLU-vroue hoor van Geopende Deure

Belangstellendes is welkom om volgende vergadering in Julie by te woon.

Lede van die Secunda VLU-tak het op Woensdag, 1 Junie na Martie Jansen van Rensburg, ’n sendeling van die nie-winsgewende sendingsorganisasie, Geopende Deure, geluister.

Jansen van Rensburg het die vroue meer van dié organisasie en die werk wat hulle doen, vertel.

Sy het gesê dit is belangrik dat vroue, en veral Christene, mekaar bemoedig.

Sy het vroue die kans gegee om briewe te skryf aan Charity, ’n Christen in Nigerië wat vervolg word weens haar geloof.

Geopende Deure sal die briewe na Nigerië stuur en seker maak dit kom by Charity uit.

“Ons was al in Nigerië en daardie mense wat Jesus volg, vra nie dat hierdie dinge met hulle moet gebeur nie, dit gebeur net,” het Janssen van Rensburg vertel.

“Die meeste aanvalle op Christene gebeur in die noorde van Nigerië.

“Daardie mense is al so gewoond om in die nag te vlug as hulle nedersetting aangeval word en om dan die volgende dag weer van voor af te begin en alles weer op te bou.”

Jansen van Rensburg het vertel dat Charity tydens so ’n aanval van haar drie kinders geskei is, en gedink het haar kinders is dood, toe sy ’n week later gehoor het hoe haar seuntjie na haar roep.

“Haar kinders het toe heeltyd weggekruip en was te bang om terug te gaan huis toe, maar hulle is toe met hul ma verenig.”

Nigerië is nommer sewe op die lys van lande wat die meeste vervolg word, maar Nigerië is bekend daarvoor in sendelingskringe as een van die lande met die wreedste vervolgings.

“Daar word elke twee ure ’n Christen vermoor,” het Jansen van Rensburg vertel.

Ná die vroue briewe van bemoediging aan Charity geskryf het, het Jansen van Rensburg gesê hulle kan ook aan Latifa wat 26 jaar oud was toe sy tot bekering gekom het, ’n epos stuur.

Latifa is nog ’n Christen in ’n land waar Christene nie welkom is nie en sy en haar gesin word voortdurend deur familielede geteiken en moes al verskeie kere trek of vir hul lewens vlug.

“Latifa is nou 42 en haar man is al so erg geslaan dat hy in die hospitaal opgeëindig het weens hul geloof.

“Haar oom het ’n boodskap gestuur dat hy haar vyfjarige dogtertjie as bruid wil hê en in dié lande is dit aanvaarbaar vir volwasse mans om dogtertjies van so jonk as nege as bruide te neem.

“Bid vir Latifa en bemoedig haar met Bybelverse in jul briewe.”

Jansen van Rensburg het gesê mense dink soms nie dat hul briewe ’n verskil maak nie, maar dit maak ’n groot verskil.

“Daar was ’n geval in Indonesië waar ’n dokter drie jaar tronkstraf gekry het omdat sy die Evangelie verkondig het aan kinders.

“In Indonesië mag mens net met mense ouer as 18 oor die Evangelie praat.

“Dié dokter is toe, danksy Geopende Deure wat ’n projek geloods het om duisende briewe aan dié dokter te skryf, vroeër uit die tronk vrygelaat.”

Afghanistan het Noord-Korea, wat vir lank die land was met die meeste vervolgings vir Christene, verbygesteek en is tans die nommer een land op Geopende Deure se lys vir lande waar Christene die meeste vervolg word.

Nadat die vroue meer gehoor het van Geopende Deure, het hulle die maandelikse kompetisiewenners aangewys.

Launa Jansen van Vuuren het eerste geëindig met haar handbreiwerk en derde met haar handborduurwerk, terwyl Teresa de Wet eerste geëindig het in dié afdeling en Magda Schwab tweede.

De Wet het eerste geëindig in die eie keuse-afdeling met ’n toiletsakkie wat sy gemaak het en Alma Bosman het tweede, derde en vierde plekke verower in dié afdeling met sketse wat sy gemaak het.

Die Secunda VLU-tak se volgende vergadering is ’n slypskool-vergadering en vind in Julie plaas.

Vir meer inligting, skakel die skakelbeampte, Liezel Myburgh by 083 645 8620.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button