Local newsNews

Zelmarie Lues van Standerton kan nie meer wag nie

Die Afrikaanse sanger Irene-Louise van Wyk, gaan Zellie as ’n agtergronddanser in ’n nuwe liedjie gebruik.

Die 10-jarige Zelmarie Lues van Standerton kan kwalik haar opgewondenheid beteuel nadat haar danspassies binnekort in ’n video te sien sal wees.

Die Afrikaanse sanger Irene-Louise van Wyk, gaan Zellie saam met vier ander dansers as agtergronddansers in ’n nuwe liedjie gebruik.

Daar sal 25 dansers wees wat volgens ouderdomsgroepe ingedeel is.

Bernice Momberg, haar peetma en tante, het haar vir die kompetisie ingeskryf sonder om eers kers op te steek met Hennie en Zeldi, haar ouers.

Ouma het gemaan dat seker gemaak moet word dat dit ’n wettige kompetisie is en Bernice se seun Darrell, se beskermingsdrang het die oorhand gekry.

“Ek gaan nie vir haar stem nie,” het hy vir Bernice gesê.

Die koeël was egter deur die kerk.

“Pappa was half-benoud en mamma was bly,” het Zelmarie vertel.

Sy het geen dansopleiding nie, maar kuiers om die braaivleisvuur ontwikkel gewoonlik in ’n dansery, veral op die maat van Van Wyk se Tekkies brand.

Bernice het bontgestaan toe Hennie haar bel en sê Zelmarie luister aanhoudend na die liedjie.

“Wat het jy aan ons gedoen?” wou hy weet.

Zelmarie Lues en Bernice Momberg loer in by die koerant.

’n Foto moes eers na die sanger ingestuur word voordat die gemeenskap in alle erns kon stem.

Stemme is per sms gestuur en Zellie het byna daagliks onder die top vyf geëindig.

Die kompetisie het begin Mei afgeskop en om middernag op 31 Mei ten einde geloop.

Die opname sal in Gauteng gemaak word en planne is reeds beraam om ’n plaaslike grimeerkunstenaar saam te neem.

Hulle wag nog op die datum en venue, weet nie waar hulle gaan oorbly nie, die liedjiekeuse is nog ’n verrassing, maar dit demp nie die entoesiasme nie.

Zelmarie Lues wil eendag ’n veearts word en haar twee basterfoksies, Mavis en Tiffany beklee ’n spesiale plek in haar hart.

Fiks is sy ook nadat die 0/10-landloopspan by Stannies gehaal is.

Bernice en Zelmarie het almal op die dorp en in die omgewing bedank wat vir haar gestem het.

“Ek weet nie wie is die mees opgewonde nie, ek, haar ma of sy nie,” het Bernice mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button