Secunda-dogtertjie maak hart oop vir Marno
Belangstellendes kan Luane ondersteun en ’n strikkie of lootjie koop.
Luané Serfonein (7), ’n leerder aan Laerskool Goedehoop, het besluit om haar hart oop te maak vir Marno Muller, die vyfjarige kleuter van Brakpan wat op 26 Mei by sy kleuterskool seergekry het toe hy by ’n glyplank afgegly het en die toutjie van sy kappie aan die glyplank vasgehak het.
Die toutjie het styfgetrek om sy nek en hom gewurg.
Marno is steeds in ’n kritieke toestand in die Netcare Garden City Hospitaal in Johannesburg en een van sy longe het platgeval.
Hy kry tans twee keer per dag fisioterapie en hy het vroeër dié week sy oë oopgemaak.
Luané se ma, Rika Serfontein, het gesê vandat Luané die storie oor Marno op die Hemelse Perels NPO-blad op Facebook gesien het, het dit haar die hele tyd gepla.
“Sy sit gewoonlik by my en kyk saam met my wat op Facebook aangaan.
“Ons het na ’n video van Marno gekyk en toe het sy gehoor hulle sê hulle samel geld in vir sy hospitaalomkostes,” het Rika vertel.
“Sy was baie hartseer en het in haar kamer gaan huil nadat sy dit gesien het.
“Ons het toe gehoor Marno se tannie verkoop strikkies om geld in te samel en Luané het toe gesê sy wil dan ook strikkies verkoop en help om geld in te samel vir Marno.”
Dié strikkies is in Marno se gunsteling kleure, blou en groen.
Luané het reeds van die strikkies na haar skool geneem en daar verkoop en die gesin se vriende en familie ondersteun Luané ook met dié inisiatief.
Luané se mikpunt is om R10 000 vir Marno in te samel en buiten die strikkies wat sy teen R5 verkoop, verkoop sy ook lootjies.
Vyf gelukkige wenners van die lootjies, wat R10 elk kos, kan koopbewyse by Oregon Spur, John Dory’s, Panarottis, Cappuccinos en Multi Save wen.
Luané gaan op 28 Junie die vyf wenners se name trek en bekend maak.
Belangstellendes wat Luané se projek wil ondersteun, en ’n strikkie of lootjie wil koop, kan Rika skakel by 071 642 5843.



