Secunda Mall en oogkundige help Lamaine
Nomineer iemand wat hulp nodig het deur ’n vorm in te vul by Secunda Mall.
Met Secunda Mall se nuutste projek, Take Heart, kon hulle, in samewerking met Dynamic Vision, R10 000 aan Lamaine van Rooyen (10) skenk.
Lamaine sukkel sedert haar geboorte met haar oë en dit het in die afgelope paar jaar erg verswak. Sy moet dringend ’n oogoperasie ondergaan.
Haar ouers het nie ’n mediese fonds nie en haar ma, Bronwyn Botha, het gesê dit gaan sowat R62 000 kos om operasies aan beide haar oë te laat doen.
Lamaine het op Vrydag, 10 Junie, ’n oogspesialis in Pretoria gesien en moet weer op 28 Junie vir ’n opvolg-afspraak na dié oogspesialis gaan.
“Hy sal dan met ons praat oor presies hoeveel dit gaan kos en wat die volgende stappe is,” het Botha gesê.
Die bestuur van Secunda Mall het in Mei hul nuutste welwillenheidsprojek, Take Hear, bekendgestel.
Die doel van dié projek is om gewone mense wat sukkel om sekere uitgawes te dek, te help.
Die bemarkingsbestuurder van Secunda Mall, Danelle van der Watt, het Dynamic Vision genader en hulle uitgedaag om die bedrag van R5 000 wat die mall aan Lamaine skenk, te ewenaar.
Dié oogkundige het dadelik ingestem en hulle kon ’n totale bedrag van R10 000 aan Lamaine se ma oorhandig.
As jy Lamaine wil ondersteun of ’n bydrae wil maak, besoek die Facebook-blad, Fundraiser for Lamaine of die webwerf, https://www.backabuddy.co.za/lamaine-du-plessis-2022.
Belangstellendes wat iemand vir die Take Heart-projek wil nomineer, kan ’n nominasie-vorm by die ingange van Secunda Mall invul en dit in die geel bokse, ook by die ingange van die mall, ingooi.
Die bestuur van die mall sal dan al die nominasies oorweeg en besluit wie hulle volgende gaan help.



