Local newsNews

Tannie Ellie Spies herdenk haar 100ste verjaarsdag op Standerton

Dié boervrou het vir dekades op die plaas Vogelvlei in die Charl Cilliers-distrik gebly en met Drakensbergers geboer.

Tannie Ellie Spies het op Woensdag 15 Junie haar 100ste verjaarsdag gevier.

Die naaste familielede het reeds vroegoggend by die Kosmos Aftree-oord op Standerton bymekaargekom en dié mylpaal oor tee en eetgoed herdenk.

Drie van haar kleinkinders was teenwoordig, met die ander kleinkinders wat in Kaapstad, Australië en Nieu-Seeland woon.

Die weduwee het in 1992 haar intrek by die ouetehuis geneem na die afsterwe van haar tweede man, Lood Spies.

“Ma het gesê as sy 70 is, dan is sy oud en trek by die ouetehuis in,” het Marie, haar oudste dogter, vertel.

Sy spog met nog ’n dogter, Elsie Jansen. Sy het haar seun, Hans Meyer, in 2018 aan die dood afgestaan na ’n plaasaanval in die Charl Cilliers-distrik.

Volgens Marie, het dié gebeure tannie Ellie platgeslaan.

Haar eerste man, Koos Meyer, is in 1958 oorlede.

Tannie Ellie Spies se familie het haar op 15 Junie op haar verjaarsdag besoek.

Altesaam 11 kleinkinders en vyftien agterkleinkinders is haar ook beskore.

“Sy was ’n lekker ouma omdat sy saam met die kleinkinders gespeel en dinge soos legkaartbou gedoen het,” het Marie gesê.

Dié boervrou het vir dekades op die plaas Vogelvlei in die Charl Cilliers-distrik gebly en met Drakensbergers geboer.

Albei haar dogters was dit eens dat hul moeder byna alles kon baasraak, van seepkook, ’n hoenderboerdery bedryf, slag, bottermaak tot by keurige handwerk soos brei en hekel.

Op enige vraag oor haar talente as plaasvrou, het hulle instemmend geknik.

Haar botterspaantjie wat destyds ingespan is, is steeds in die besit van die familie.

Die dogters, self nou afgetree, het albei onderwysopleiding in Pretoria gehad en vir jare in die klaskamer gestaan.

Tannie Ellie was tot onlangs nog sterk in haar bo-arms en kon met gemak ’n prop van ’n fles afdraai.

Haar gesondheid is origens goed, behalwe vir die oumensskete wat niemand ontsien nie.

Tannie Ellie het in 2020 positief vir die koronavirus getoets en is daarna in Standerton Hospitaal en Mar-Peh MediClinic opgeneem.

Sy was helder op die herdenking van haar geboortedag en het die familiebande gekoester.

“Ma is geestelik ’n sterk vrou en dit is waarom sy 100 gehaal het,” het Marie mee afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button