EG Kerk Secunda se barmhartigheidsgroep maak harte oop
Raak betrokke en skenk toiletware of ’n kam of borsel.
Die Evangelies Gereformeerde Kerk Secunda-gemeente se barmhartigheidsgroep het onlangs hul harte opgemaak en uitgereik na kinders in die SAVF Louis Hildebrandt Kinderhuis op Volksrust.
Dié groep het beddegoed vir die kinders geneem en materiaal gekoop en vir elke kind ’n kombersie gemaak.
Dié kombersies is vanuit ‘fleece’- materiaal gemaak.
Hulle het ook vir elke kind ’n Bybel gegee en die vroue het vir elke kind ’n serp gebrei of gehekel.
Die barmhartigheidsgroep het die sitkamerstel se kussings laat oordoen en sanitêre doekies en onderklere aan die dogters geskenk.
’n Onderneming op Secunda het hulle ondersteun en die sitkamerstel oorgedoen.
Hulle het die 95 kinders wat in die kinderhuis bly, ook bederf met ’n kolwyntjie-dag in Maart en vir elke kind ’n kolwyntjie geneem.
Die groep het dié dag gebruik om ’n behoefte-bepaling te doen on te kyk wat die kinders en die kinderhuis alles nodig het.
Dié projek om na die kindes uit te reik, het in Maart afgeskop en die groep wil graag voortdurend betrokke bly by dié kinderhuis en in hulle aanhoudende behoeftes voorsien.
Dié behoeftes sluit in borsels en kamme, haarrekkies, toiletware, potte, panne en skryfbehoeftes.
Die groep brei en hekel tans bedsokkies vir die kinders en benodig wol om aan te hou met dié inisiatief.
Pieter Blaauw, koördineerder van dié projek, het gesê hulle wil sowat 100 sanitêre ware wat nuut op die mark is wat ’n mens kan was en weer gebruik, aan die dogters skenk omdat dit die kinderhuis op die lang termyn goedkoper sal uitwerk.
“Ons wil die kinders ook geestelik verryk,” het Blaauw gesê.
Hy het die gemeenskap aangemoedig om dié projek te ondersteun en het gesê enige iemand van enige kerk of denominasie kan betrokke raak.
Die groep het al hulle borge en mense wat gehelp het en ’n bydrae gelewer het, bedank.
Dié barmhartigheidsgroep het al aan ouetehuise en behoeftige mense ook uitgedeel.
As jy dié groep te ondersteun of iets te skenk, skakel Blaauw by 082 650 6529.



