Local newsNews

Student op Standerton hou haar opsies wyd oop

Dié derdejaarstudent het nadat sy aan Hoërkool Erasmus op Bronkies gematrikuleer het, die wye wêreld ingevaar en vir ’n jaar in New Jersey en Madison, Wisconsin by verskillende gesinne gewerk.

’n Jong vrou al die pad van Bronkhorstspruit, het Standerton in 2021 haar tuiste gemaak.

In weerwil van haar bewese ondervinding in 2019 as ’n au pair in die VSA, het sy haar nie laat blindstaar teen toekomsmoontlikhede nie.

Erika van Vuuren studeer tans vir ’n BA met hoofvakke geografie, wiskunde en geskiedenis by die AP Kerk se Akademie.

Dié derdejaarstudent het nadat sy aan Hoërkool Erasmus op Bronkies gematrikuleer het, die wye wêreld ingevaar en vir ’n jaar in New Jersey en Madison, Wisconsin by verskillende gesinne gewerk.

’n Groep van vyf jong meisies se eerste kennismaking met ’n doeanebeampte in Doebai, was toe hy op ‘shoes’ aangedring het.

“Ek het my doodgeskrik en eers daarna besef ons moes ons skoene uittrek,” het Erika vertel.

’n Voorstel tydens haar jare in die kinderhuis, Loerie, het daartoe gelei dat sy ’n ‘gap year’ gevat het en Certified Au Pairs het die knoop vir drie dogters uit die kinderhuis deurgehaak.

“Daar was taamlik baie avonture saam met die Loeries, maar min geleentheid om op jou eie blootstelling aan die res van die wêreld te kry.

“Dit het my selfstandigheid geleer.”

Maar nimmer as te nooit is sy enigsins oor haar agtergrond verleë nie.

“As mense hoor ek het in ’n kinderhuis grootgeword, sê hulle gewoonlik dat hulle jammer is om dit te hoor.

“My antwoord is altyd ‘hoekom’.

”Ons het albei kante van die lewe geleer.”

Erika het die Amerikaners as vriendelik, dog soms vreemd, ondervind.

“Die kinders het baie sê in die huishouding, ongeag hulle ouderdom.”

Die gebeure met die sheba bly haar by toe sy op Erfenisdag aan die Amerikaanse gesin voorgestel het dat hulle ’n braaidag, soos in Suid-Afrika, hou.

Sy kon nie ’n t-been steak bekom nie, maar het die pap op die stoof en sheba aanmekaargeslaan.

Gou het een van die gaste sy ouma, afkomstig van Suid-Afrika, laat weet en oupa en ouma het vyf minute later opgedaag om pap te eet.

Die ma van die gesin wou Erika ook nie op die lughawe laat vertrek sonder ’n resep vir die tamaties en uie nie.

Erika het op Suid-Afrikaanse bodem geland met ’n t-hemp wat verkondig: Nou gaan ons braai.

Sy het in 2010 haar biologiese moeder, Rina, vier dae voor Kresfees aan die dood afgestaan.

Rina het deur die jare noue, emosionele kontak met haar en haar sussie, Hilderette, gehou.

Die sibbe het gereeld vir haar in die Karoo gaan kuier.

Hulle was saam met die kinderhuis by die see toe hulle die nuus van haar afsterwe gekry het.

Die kinderhuis se huismoeder, tannie Betsie, en donateurs het dadelik koppe bymekaargesit om die twee Van Vuurens geborge vir Kersfees te laat voel.

“Tannie Betsie se dogter het die aand van my ma se dood langs my bed gewaak om seker te maak ek val nie heeltemal uitmekaar nie.”

Erika is ook knap met naald, gare en ’n Bernina, wat sy toeskryf aan ’n familietalent waar haar ma behendig sonder ’n patroon kon werk.

“Ek geniet naaldwerk, dit is deel van my DNS.”

Dié jong vrou, wat hou van mense en nuwe ondervindinge, pak die lewe oopkop aan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button