Bethal-digter reik derde digbundel uit
Patrick verkies dit om gedigte te skryf eerder as boeke.
Pat Keyser (81) het onlangs sy derde digbundel, Gedagtes 2, vrygestel.
Sy kleindogter, Rijna Keyser wat ’n onderwyser is by ’n skool op Bethal, het die voorblad van die nuutste digbundel ontwerp.
Sy het ’n selfportret geskets en is ook die ontwerper van Keyser se eerste twee digbundels se voorblaaie.
Keyser se eerste digbundel, Mymeringe, is drie jaar gelede vrygestel en die tweede een, Gedagtes, verlede jaar.
Dié digter se gedigte handel oor iets van alles, van hartseerdinge wat hy op die nuus sien, tot die liefde en die verlange na sy vrou, Miems Keyser (72) wat vyf jaar gelede dood is.
Dié bundels is opgedra aan haar en sy eerste vrou, Thalitha, wat al jare gelede dood is.
Sy gedigte word elke Dinsdagaand om 19:30 op die radiostasie, Radio Kragbron, voorgelees.
Hoewel Keyser, wat vroeërjare lank in die bankwese gewerk het en hom later as makelaar bekwaam het, lankal afgetree het, help hy steeds van sy kliënte wat ’n makelaar nodig het.
Keyser het gesê dit is harde werk om gedigte te skryf, maar hy geniet dit.
Hy het al twee boeke geskryf, maar hy dink nie hy sal dit laat publiseer nie.
Een van dié boeke gaan oor sy oorlede vrou se siekbed en die ander een oor twee paartjies, een paartjie wat in toendertyd se tyd geleef het en een paartjie wat in die moderne tyd leef.
“Ek het dié twee boeke net vir myself geskryf,” het Keyser gesê.
“Die Here gee vir my gedigte, dan skryf ek,” het Keyser gesê.
Hy verkies om eerder gedigte te skryf en het gesê hy sal eerder 10 gedigte skryf voordat hy een hoofstuk van ’n boek skryf.
Mense het hom al genader om stukkies vir begrafnisbriewe te skryf vir mense wat hy geken het.



