Daar is geen keer op die rugbyveld aan Boer-egpaar van Standerton se kleinseuns nie
JT du Preez het sy dank teenoor PJ Mostert, Nico Lombard en Gary van Aswegen uitgespreek, wat hom tydens laerskooljare afgerig en help ontwikkel het.
Dit moet iets in die water wees.
Willem en Hannelie Boer van Standerton se twee kleinseuns maak naam op die rugbyveld.
JT du Preez en Wilhelm Boer is onderskeidelik vir die Goue Leeu se 0/16A- en Blou Bul se 0/12A-span gekies.
Wilhelm is die seun van Pieter en Marise Boer van Pretoria en ’n leerder by Laerskool Lynnwood.
Hy is ook die kleinseun van De La Rey en Erasol Tonkin van Standerton.
Pa Pieter het in die laat 90’s en vroeë 2000’s as vaskopstut vir die Blou Bulle uitgedraf.
Wilhelm het in die heelagterposisie aan die toernooi op Klerksdorp deelgeneem.
JT is die seun van Gert en Cecilia du Preez van Standerton, en ook kleinseun van wyle Kosie en Roz du Preez.
Dié skrumskakel gaan skool by Helpmekaar Kollege in Johannesburg en is ’n oud-Stannie.
Die 0/16A-span het vanaf 26 tot 30 Junie aan die Grant Khomo-rugbyweek in Kimberley deelgeneem, waar provinsiale spanne dit uitgespook het om as die beste aangewys te word.
Die Goue Leeu-inhuldigingseremonie het op 21 Junie plaasgevind, waartydens vanjaar se 0/16- en 0/18-span aangekondig is en elke speler sy pet ontvang het.
Oud-Goue Leeu- en huidige Goue Leeu-spelers, asook Springbokke, het die geleentheid bygewoon en die seuns toegespreek en gelukgewens.
Na bykans twee jaar van geen skole of provinsiale rugby, kon spelers en toeskouers na ’n week van opwindende rugby uitsien.
JT het sy dank teenoor PJ Mostert, Nico Lombard en Gary van Aswegen uitgespreek wat hom in laerskooljare afgerig en help ontwikkel het.




