Die Evangelies Gereformeerde Kerk op Bethal het onlangs hul eerste sjokolade- en koffie-oggend aangebied en koffiekenner en eienaar van ’n sending-koffiewinkel op Ermelo, André Vermeulen, het die koffiesnobs toegespreek.
Hy het die sending-koffiewinkel, Bottomless Blessing, oopgemaak om mense te bereik deur koffie.
Vermeulen het die proses van hoe die koffiebone fases deurgaan en later gerooster word, verduidelik.
“Die temperatuur waarby die koffie bedien word, is baie belangrik,” het Vermeulen gesê.
Hy gebruik net vars-gemaalde bone omdat hy die beste geur in elke koppie wil sit.
“Om die smaak van die koffie op sy beste te geniet, moet dit sonder melk of suiker gedrink word,” het hy gesê.
Antoinette Coetzee van Trichardt het met die gehoor oor sjokolade gepraat en haar ontwerpe en geskenke wat sy uit sjokolade gemaak het, gewys.
Sy het gesê dit is eintlik baie maklik om tuis ’n mens se eie sjokolade met verskillende skeppings te maak.
Alles wat Coetzee van sjokolade weet, het sy in België geleer.
Elke gas by die sjokolade- en koffie-oggend het later die kans gekry om hul eie skildery met koffie te maak.
Natasha Lloyd het die gaste touwys gemaak en gewys hoe om ’n skildery met koffie te skilder.




