Ouma Susan en Amanda trek tentpenne op Standerton uit
Op 89 is ouma Susan nog perdfris en gesond en sy neem afskeid van Standerton, ’n dorp wat 64 jaar haar tuiste was.
Ouma Susan Grobbelaar en Amanda Peens vertrek teen die einde van die maand na ’n aftree-oord in Pretoria.
Op 89 is ouma Susan nog perdfris en gesond en sy neem afskeid van Standerton, ’n dorp wat 64 jaar haar tuiste was.
Wat betref haar gesondheid, het Amanda verklap dat ouma nog haar tone kan raak.
Die onverwagse skuif na Frankfort van Amanda se dogter, Zenia se man Roelof Heenop, het die verhuising genoodsaak.
Amanda se ander dogter, Azilla en haar gesin woon juis in Pretoria en Azilla sal na werk gou by die familie kan inloer.
Dinge het holderstebolder gegaan en Amanda se huis is nou in die mark.
Haar pa Grobbies, of Kerneels, wat destyds by die spoorweë gewerk het, daarna ’n veeinspekteur was, het op 55 afgetree en ’n nuwe rigting ingeslaan.
“Hy het sy pensioenboerdery begin,” aldus ouma.
“Hy was grensloos gefrustreerd en daarna is hy terug na die werk as veeinspekteur.”
Ouma en oupa Grobbelaar het tot ’n gevorderde leeftyd tennisliga op die dorp gespeel, met ouma wat haar steeds nouliks van die televisie kan wegskeur as sportprogramme begin.
Krieket, rugby en tennis, noem maar op.
“Ek word half-vrywillig gedwing om sport te kyk,” het Amanda tong-in-die-kies opgemerk.
Ouma het destyds die grondpaaie van Standerton geken en beleef nou die teerpaaie, waarop Amanda laat val het dat daar eerder na die grondpaaie teruggegaan moet word.
Ouma Susan het vir 10 jaar by die staatsveearts in ’n administratiewe hoedanigheid gewerk.
Amanda se man, Nick is in die begraafplaas in Walter Sisulurylaan begrawe, terwyl Grobbies en sy pa se as in die Standerton Rivierpark gestrooi is.
’n Onlangse besoek aan die rivierpark het familielede nie beïndruk nie omdat hul skaars daar kon ry.
Amanda het destyds by die polisie met die rang van luit-kol afgetree en was vir 38 jaar verbonde aan die polisiediens.
Ouma Susan spog met drie kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Ma en dogter het Standerton soos volg gegroet:
“Dankie vir die tydperk wat ons inwoners was. Tot siens aan die bekendes by wie ons nie kon uitkom nie óf wie nie by ons kon uitkom nie.”



