Local newsNewsStreeknuus

Delmas Brandweer voer ’n beheerde brand by verlate eiendom uit

“Dit is hartseer as ’n mens die brandweer moet inroep om orde te skep op ’n erf waar daar eens trou- en matriekafskeidfoto’s geneem was.”

Die lank verlate, geplunderde en verwaarloosde dubbelverdiepinghuis in Oosterhuisstraat op Delmas het nabygeleë inwoners behoorlik moedeloos.

Vir meer as twee jaar moet inwoners aanskou hoe dié eens pragwoning by Oosterhuisstraat 13 daagliks verniel en geplunder word en hoe die erf in ’n onveilige oerwoud vir die skuiling van kriminele verander.

Met die winter en gepaardgaande brandseisoen op hande, het die inwoners gevrees dat ’n brand weer sou ontstaan wat hul eiendom in gevaar kan stel.

’n Besorgde inwoner van Oosterhuisstraat, Carel Botha, het daarom vanjaar die brandweer gekontak en om hulp gevra.

Die brandweer van Delmas het op Donderdag, 7 Julie ’n beheerde brand op die perseel uitgevoer.

Kakiebos van by die 2m, gras en bossies was aan die brand gesteek ten einde te verhoed dat daar weer ’n onbeheerde brand ontstaan.

Die eiendom is byna heeltemal gestroop, die meeste van die vensters is verwyder en glas is gebreek. Sou daar dus weer ’n brand ontstaan, kon die eiendom in die vuur verwoes word.

Delmas se brandweerdienste voer ’n beheerde brand by ’n verwaarloosde eiendom op Delmas uit.

Op 22 Junie 2021 het daar ook ’n brand op die perseel ontstaan wat groot konsternasie veroorsaak het.

’n Grasbrand het agter die huis ontstaan en met sterk winde het dit vinnig oor die muur gespring en ’n groot gevaar vir aangrensende eiendomme ingehou. (Streeknuus, 9 Julie 2021).

LEES OOK: Eens ’n pragwoning op Delmas, nou ’n bouvallige seeroog

Weens die plundery was daar geen water meer op die perseel beskikbaar nie.

Die brandweer moes ontbied word om die hoë vlamme te blus.

Tydens dié brand het die vlamme aan die een aangrensende eiendom se dak gelek toe ’n groot boom onder ander aan die brand geraak het.

Ná die vuur die volgende dag hervat het, het dit deur ’n aangrensende eiendom se heining gelek en skade aangerig.

Die eienaar van dié woning, Marelie Janse van Vuren, moes met behulp van ’n tuinslang die vuur onder bedwang hou terwyl die brandweer vir ’n tweede keer na die eiendom gehaas het.

Botha het vandeesweek vir Frans Bolton, hoof by VKLM se brandweerdienste en sy personeel vir hulle hulp en die tyd wat hulle afgestaan het om die nabygeleë inwoners van die moontlikheid van ’n onbeheerde brand te red, bedank.

“Ek het vir Frans gebel en van die gevaar in kennis gestel en die volgende oggend om 11:00 was die brandweer daar. Baie dankie dan ook aan ons brandweerhoof vir die spoedige reaksie. Die inwoners rondom die seeroog-woning waardeer dit opreg,” het Botha gesê.

Botha het verder genoem dat buiten die lang gras en toegegroeide erf wat ’n groot brandgevaar ingehou het, het dit ook skuilplek aan kriminele gebied.

“Die misdaad en inbrake het skerp in die onmiddellike omgewing toegeneem.”

Carel Janse van Vuren, ’n buurman, het die brandgevaar beaam.

“Die eiendom reg langs my hou ’n groot brandrisiko in. Behalwe daarvoor, is dit ook ’n groot veiligheidsrisiko, want dit bied wegkruipplek vir kriminele.

“Terwyl ons nooit enige probleme met inbrake en diefstal in die omgewing gehad het nie, is daar nou skielik ’n geweldige toename en het verskeie items reeds uit my erf weggeraak.

“Die huidige eienaar van die eiendom reageer glad nie op enige boodskappe nie,” het Janse van Vuren Streeknuus meegedeel.

Janse van Vuren het ook die brandweer vir hul hulp bedank.

Nog ’n buurvrou, Ansa Oosthuizen, het gesê dat dit hartseer is om weer eens so ’n pragtige, eens spoghuis se gras in vlamme te sien opgaan.

“Dit hartseer as ’n mens die brandweer moet inroep om orde te skep op ’n erf waar daar eens trou- en matriekafskeidfoto’s geneem was,” het Oosthuizen gesê.

“Hoe is dit moontlik dat die eienaar nie omgee dat die huis ten gronde gaan nie en nog minder die bank?
“ Die huis het nie net ’n seeroog geword nie, maar ook ’n skuilplek van vele kriminele,” het Oosthuizen bygevoeg.

Die verlate eiendom in Oosterhuisstraat op Delmas waar lang gras en kakiebos ’n groot brandgevaar ingehou het voordat die brandweer ’n beheerde brand uitgevoer het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button